Wat het geword van...
2012-10-20 23:57
Seetragedies is weer in die nuus nadat ’n plesierboot, die Miroshga, verlede Saterdag met 39 mense aan boord in Houtbaai omgekantel het.
Twee mense is dood.
Perlemoenstropers was die helde toe hulle die passasiers te hulp gesnel en uit die water gered het.
Dit laat ’n mens dink aan die Oceanos wat op 4 Augustus 1991 aan die Suid-Afrikaanse kus gesink het.
Yiannis Avranas (toe 52), die kaptein, is destyds daarvan beskuldig dat hy 571 passasiers agtergelaat het met net die skip se vermaaklikheidspersoneel om hulle te help.
Die helde daardie dag was die Britse vermaaklikheidswerkers Moss Hills (toe 35) en sy vrou, Tracy (toe 33).
Hulle het die ordelike ontruiming van die passasiers per helikopter georganiseer en was ook die laastes wat die sinkende skip verlaat het.
“Ons het ’n kontrak van agt maande met die Oceanos gehad, maar ons was slegs ’n paar weke op die skip voor die tragedie,” vertel Moss.
“Suid-Afrika was destyds ons basis en ons het by enige hotel gebly waar ons kon werk kry. Ons was ook op skepe die wêreld oor, en nadat die Oceanos gesink het, het ons selfs vir 18 maande by Sun City opgetree.”
Die paartjie het in November 1994 nog ’n seedrama oorleef toe hulle aanboord die Achille Lauro was.
“Die kaptein en sy bemanning het hul bes gedoen om die skip te red, maar hulle kon nie. Vier mense het daardie dag gesterf.”
In 2000 het hulle teruggeseil na Europa en in Engeland nesgeskop.
Die Oceanos se wrak lê op ’n diepte van 92 m sowat 5 km vanaf die kus by Koffiebaai.
