Wees slim vóór laaste klok lui

2012-10-07 00:24

Mike Schutte

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

In sportkringe word dit die “tienjaar-high” genoem.

’n Dekade waarin jou droom van roem op die sportveld werklikheid word. En ’n tydperk waarin jou beursie as professionele speler bult. Jy leef gemaklik. Jy kan alles koop, selfs vriende. Jy het dalk die illusie die toekoms sal vir homself sorg.

Dat die kruin van jou sukses – en jou finansiële voorspoed – dalk ’n tragiese nadraai kan hê, is nie iets wat jou laat wakker lê nie.

Die werklikheid is egter dat roem binne ’n oogwink in onbekendheid, vergetelheid en ’n geldelike moeras kan verander.

Soos nou in die geval van Corrie Sanders weer geblyk het.

Altesame 42 oorwinnings in ’n loopbaan van 20 jaar het waarskynlik miljoene in sy sak gesit. Tog het hy, toe hy voorverlede naweek tragies aan sy einde gekom het, bitter min geld in die bank gehad. Sanders se loopbaan as professionele sportman was boonop langer as die gemiddelde.

’n Meer realistiese tydperk vir sportsukses is tien jaar waarin jy op die kruin van die golf ry, mits beserings nie jou planne kortwiek nie, sê dr. Henning Gericke, die man wat van 2004 tot 2007 die Springbokke se “kopdokter” was.

Hy was ook betrokke by die sielkundige bystand en motivering van die nasionale krieketspan, sokker se Bafana Bafana en pas ook die Olimpiese swemspan.

“Jy kan dit maar die tienjaar-high noem – die duur van die gemiddelde sportloopbaan.”

Daar is talle voorbeelde van groot sporthelde wat bitter min van hul groot professionele verdienste oorgehou het.

Die bokser Mike Schutte het met sy dood vir sy broer as stoorman gewerk. Johnny du Plooy het geld so vinnig soos dit in sy bankrekening inbetaal is, geblaas.

Baie van dié uit die amateur-era het nóg swaarder gekry. Ou sportvriende moes help geld insamel om die oud-Springbok-held Mof Myburgh se menswaardigheid in sy laaste dae te beskerm.

Maar dis nie net Suid-Afrikaners wat van held tot hongerloon gedaal het nie. Die Amerikaanse swaargewigbokser Mike Tyson, eens ’n wêreldkampioen, het niks oor van die sowat $400 miljoen wat hy verdien het nie. Evander Holyfield se $250 miljoen is weg. So ook die miljoene van Joe Louis en Leon Spinks. Anders as Gerrie Coetzee en Kallie Knoetze wat vir hulle loopbane buite die bokskryt uitgekap het.

’n Artikel in ’n oorsese uitgawe van Sports Illustrated berig 78% van nasionale sokkerspelers is twee jaar ná hul uittrede bankrot, gewoonlik weens werkloosheid of ná ’n egskeiding. Vriende en familie wat saam op die finansiële golf ry, duur huise, karre, dwelms, swak beleggings en power finansiële raad kan geld vinniger opvreet as wat ’n vinnige vleuel doellyn toe kan nael.

In Suid-Afrika het alles om en by 1995 se Wêreldbeker-rugbytoernooi verander, sê Gericke. Skielik kon Suid-Afrikaners internasionaal deelneem. Internasionale borgskappe het talle se inkomste nóg verder vermenigvuldig.

“Dit was ’n waterskeidingsjaar – toe ’n professionele beskouing van ’n sportloopbaan as grondslag vir verdere sukses ingetree het.”

Die ’95-Wêreldbeker-kaptein, Francois Pienaar, stem saam.

“Ons het as amateurs gespeel. Maar ons het ’n professionele benadering ontwikkel.”

Pienaar is loopbaangewys van die suksesvolste oud-rugbyspelers, meen Gericke. “Een wat reeds gedurende sy sportloopbaan besef het hy moet sy belange uitbrei om te keer dat hy nie sukkel die dag as hy weg is uit die kollig nie.”

Volgens Pienaar “duur sportlui se loopbaan totdat hulle ernstig beseer word. Of eenvoudig totdat hulle ophou goed speel.”

En dit kan enige dag gebeur.

“Sport is wispelturig. Dis waarom jy moet beplan terwyl jy nog aan die gang is. Jy bereik dalk baie in jou sportloopbaan en die roem is groot, maar dit kan oorweldigend wees vir veral jong spelers. Die 1995-span was amateurs. Dit het ons geld gekos om te speel. Dit was nie soos nou nie. Ek het besef goeie raad is broodnodig.”

Vandag se mislukkings ná roemryke sportloopbane is veel minder as die suksesse, sê Gericke.

“Dis asof sportlui deesdae vanaf dag een besef dié loopbaan moet hulle vir nog minstens 40 jaar ná die laaste eindfluitjie dra. Maar ons moet erken: Dis makliker vir spanspelers as individue. Spanspelers gee mekaar raad.”

Een van Suid-Afrika se swemwonders, Cameron van den Burgh, met wie Gericke deesdae nou saamwerk, is iemand wat weet die sukses van die Olimpiese Spele was maar net die begin van fyn loopbaanbeplanning.

“Baie sportsterre verdien ook ‘optree’-geld. Hul redding is dat hulle die groter prentjie vorentoe sien, soos Ryk Neethling.”

Rugby veral lewer sy kwota suksesse. Daar is Bob Skinstad en Kobus Wiese wat gedugte sakemanne is tesame met hul werk as sportkommentators. So ook die oud-Springbokke John Smit, Bakkies Botha, Victor Matfield, Naas Botha en Joel Stransky.

Ander kan terugval op hul opleiding, soos rugby se mediese dokters, Jannie du Plessis, Uli Schmidt en Divan Serfontein. Die Springbok-heelagter Jaco Taute is ’n voorbeeld van iemand wat besef rugbyroem hou nie vir ewig nie – hy studeer vir ’n B.Com.

Die beste voorbeelde van rugbyspelers “wat hul verstand gebruik” en groot sakesukses in hul latere lewe behaal het, is seker Louis Luyt en Jan Pickard, meen Lappe Laubscher, oud-sportjoernalis.

“Kyk ook na die sokkerster Gary Bailey, die gholfspelers Gary Player, Ernie Els en Retief Goosen. Die oud-tennisspeler Gordon Forbes het die Phillips-kontrak vir Suid-Afrika gekry en twee boeke geskryf.

“Dié wat dit nie reggekry het om geldsukses ná die sportroem te behou nie, is dié wat in ’n droomwêreld bly leef het. Dis eintlik pateties hoe sommiges uit hul wêreld van grootsheid val. Dis hulle wat nadat die laaste klok gelui het met ’n brein van roereier oorbly.”

Jannie Putter, van 2006 tot 2010 Blou Bul-motiveringsbestuurder, sê: “Daar is die superheld wat ’n ikoon bly ná sy sportloopbaan, iemand wat aanhou om sy sukses en talente te gebruik; of dié wat krepeer van ellende.”

Gericke sê laasgenoemde is die klomp wat hulself nooit met raadgewers omring het nie.

“Raadgewers sou hulle gemaan het om van meet af aan te beplan vir die 40 of 50 jaar ná hul sportsukses, pleks van net vir die tienjaar-high.

“Die nuwegenerasie-sportlui dink anders. Hulle weet ’n finan­siële mentor en vertroueling is net so belangrik soos ’n goeie afrigter.”

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 10-21°C High level clouds. Mild. Pta: 8-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-17°C Sunny. Mild. Bfn: 4-16°C Sunny. Cool.
Dbn: 14-23°C Morning clouds. Mild. PE: 11-23°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!