Wenskole, ten spyte van staat en vakbonde
2012-01-28 13:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
CHRIS KLOPPER
Die gr. 12-uitslae van die afgelope twee jaar het weer bewys dat onderwys in Afrikaanse skole kerngesond is.
Sonder om verwaand te wees kan ’n goeie argument gemaak word dat dit as substelsel relatief vergelykbaar is met eerstewêreldstandaarde.
Die slaagsyfer vir die gr. 12-groepe van 2010 en 2011 was onderskeidelik 67,8% en 70,2%, terwyl dit by skole waar Afrikaans die medium van onderrig is, gemiddeld 92% was.
Die deurslaggewende syfer is die deurvloeisyfer – die vergelyking tussen die getal graadeens wat 12 jaar gelede met hul skoolopleiding begin het en dit uiteindelik voltooi.
Dié syfer vir die totale onderwysstelsel is taamlik beroerd: Die afgelope drie jaar het net tussen ’n kwart en ’n derde van graadeens uiteindelik hul skoolloopbaan voltooi. In skole waar Afrikaans die oorwegende onderrigtaal is, voltooi meer as agt uit tien graadeens uiteindelik matriek.
Nog ’n aspek wat in perspektief geplaas moet word as die slaagsyfer ter sprake kom, is die gehalte van die matrieksertifikaat. In dié opsig moet daar veral gelet word op die getal leerlinge wat wiskunde, fisiese wetenskap, rekeningkunde, ekonomie en die tegnologie-vakke geslaag het, asook die gemiddelde persentasie wat hulle behaal in die vakke. Die lae slaagsyfer is onrusbarend, terwyl die getal suksesvolle kandidate jaar ná jaar skerp afneem.
Teen hierdie agtergrond is die uitdaging vir die stelsel baie duidelik. In kort kom dit daarop neer dat kinders reeds van die grondslagfase die bes moontlike onderrig moet ontvang om hulle in staat te stel om die vakke te kan bemeester wat later ’n sterk syferbasis het en abstrakte denke verg.
Dit vereis nie ’n Josefskleed om te kan voorspel dat ons ernstige sosio-politieke probleme kan verwag as ons nie die deurvloeisyfer in al ons skole dramaties verhoog nie.
Die bevolkingsyfers toon duidelik dat die getal jong mense tussen 16 en 35 wat nie oor die vaardighede beskik wat ons arbeidsmark verlang nie, al hoe meer word. Die onweerswolke pak reeds op die horison saam. ’n Suksesvolle onderwysstelsel wat goed opgevoede burgers met skaars vaardighede lewer, kan dié probleme voorkom. Die deurvloeisyfer moet egter nie gepaardgaan met ’n verlaging in standaarde nie.
Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), die enigste onderwysersvakbond wat hom vir Afrikaans beywer, het indiensopleidingsprogramme in werking gestel om te verseker dat Afrikaanse onderwysers op die hoogte kom en bly van die jongste kurrikulumvereistes en assesseringstendense, wat vanjaar vir gr. 1 tot gr. 3 en vir gr. 10 in werking gestel word. Verlede jaar het ons ongeveer 20?000 onderwysers opgelei. Ouers kan gerus wees dat Afrikaanse onderwysers op die hoogte van die jongste stand van sake is.
Nog ’n groot uitdaging wat nou besig is om te ontvou, is die feit dat ná jare lange betoë die onderwysowerheid einde ten laaste besef het die onverantwoordelike beperkinge wat op tegniese skole geplaas word, kan nie langer geïgnoreer word nie. Benewens hierdie skole se rol om jong mense vir ingenieurstudies voor te berei, moet hulle kinders in die rigting van die ambagte kanaliseer.
Ongeag die beste bedoelinge en planne om onderwys reg te ruk en veral om Afrikaanse onderwys verder te verbeter, is die onomstootlike realiteit dat die man en vrou voor in die klaskamer die bepalende faktor is. Die groot tekort aan gekwalifiseerde onderwysers is dus ’n groot bron van kommer.
Natuurlike “uitputting” (afsterwes, bedankings en aftredes) beloop tussen 3% en 5% per jaar. Minstens 11 400 van die 380 000 onderwysers in die land moet dus jaarliks nuut aangestel word.
Op die oomblik is daar in die hele land nie eens 2 000 vierdejaar-onderwysstudente op universiteit nie. As dit nie vir die Noordwes Universiteit en die Universiteit van Pretoria was nie, was ons selfs dieper in die moeilikheid – meer as die helfte van alle onderwysstudente in die land loop daar klas.
Chris Klopper is uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.
JACOB ROOI
Sommige meen die beskikbare geld speel nie ’n rol in onderrigvoorsiening nie; dat gehalte-onderrig nie daarvan afhang nie.
Ander meen weer dis juis die beskikbaarheid van geld en ander hulpbronne wat skole se sukses waarborg.
Daar is ’n mate van waarheid in die eerste en ’n groter waarheid in die tweede stelling.
Terwyl sommige skole in minder gegoede buurte om verskeie redes dikwels uitstekend vaar, beperk die tekort aan geld tog hul vermoë om meer te kan doen: ekstra onderwysers, kleiner klasse, ekstra klasse, leermateriaal en die bevordering van die algemene welstand van ’n skool.
Sommige model C-skole betaal onderwysers oortyd (ek weet van ’n skool wat R500 000 daarvoor begroot) en beskik oor ekstra geld om juis die beste onderwysers te lok. Die ouers is in staat om vir ekstra klasse te kan betaal en die meeste van dié skole behaal jaar ná jaar ’n matriek-slaagsyfer van 100%.
Skole in armer gemeenskappe het nie die hulpbronne vir ekstra personeel nie. Waar dit gebeur, is hulle nie in staat om dieselfde salarisse te betaal aan die “beheerliggaam-leerkragte” of bonusse soos by sommige model C-skole gedoen word nie.
Daarby is skole in armer gemeenskappe meer blootgestel aan so
Wat skoolveiligheid betref is bendegeweld uniek aan die bruin en dalk in ’n mindere mate die swart gemeenskappe. ’n Kind moet veilig kan voel en in ’n veilige omgewing sal jy vind alle rolspelers, insluitende onderwysers, laat die opvoeding tot sy reg kom. Voeg daarby die politiekery in skole, veral die verwoestende effek van onverantwoordelike vakbondlede, veral in agtergeblewe gebiede wat juis toegewyde leerkragte benodig en waar ’n gebrek aan ’n leer-en-onderrigkultuur bestaan.
Mnr. Andile Lungisa, voorsitter van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (Nyda), is die afgelope week feitlik stil geskreeu toe hy die swak uitslae in swart skole toegeskryf het aan vakbonde se ontwrigting.
Hy het gevra dat onderwys as ’n noodsaaklike diens verklaar en vakbonde verbied word. “Vakbondbedrywighede behoort te geld in fabrieke en nywerhede en behoort nie te geld in iets so ernstig soos onderwys nie.”
Sela!
Cosatu en die South African Students’ Congress (Sasco) het gemeen Lungisa praat twak, maar Lungisa het die vinger geplaas op ’n groot seer in Suid-Afrikaanse onderwys – veral die skole in swart gemeenskappe wat jaar ná jaar ontwrig word deur stakings of ontwrigtende optrede wat onderwys daar tot stilstand dwing. Of ’n vakbond wat sy lui lede beskerm.
Mens wil byna sê net sulke drastiese optrede sal onderwys in ons land help red. Daar is egter wette wat vakbonde beskerm.
Maar haal jou hoed af vir die toegewyde leerkragte in skole in arm woonbuurte wat hul arms stompies werk vir hul kinders. Hulle kan niks doen aan die sosiale omstandighede van die gemeenskap nie, maar deur hul toewyding, onderrig en voorligting gee hulle hul leerlinge ’n kans om daaruit te kan ontsnap.
Hoewel hulle soms onveilig voel, oorlaai is met groot klasse en te min verdien, doen hulle steeds wat van hulle verwag word – en meer.
Dis dikwels hulle wat mens laat twyfel of dit werklik meer geld is wat ’n uitsonderlike verskil maak.
Waar onderwysers betyds is in die klaskamer, voorbereid en entoesiasties, is die stryd halfpad gewonne.
Hoe meer van hulle jy by ’n skool aantref – met ’n toegewyde en inspirerende hoof aan die stuur van sake – vind gehalte-onderwys plaas, ongeag die armoede waaruit die leerlinge kom.
Jacob Rooi is senior assistent-redakteur van Rapport en ’n voormalige onderwyser en Afrikaans-departementshoof.
PAUL COLDITZ
Prof. Jonathan Jansen, die Kovsie-rektor en onderwyskenner, het onlangs talle ouers laat regopsit met sy opmerking dat hy nie sommer sy eie kind na ’n Suid-Afrikaanse openbare skool sal stuur nie.
Hy verstrek verskeie redes, die meeste daarvan heel oortuigend.
Ek en Jansen het inderdaad heelwat gemeen in ons standpunte oor die deursneegehalte van skoolonderwys in Suid-Afrika. Om alle openbare skole in Suid-Afrika egter oor dieselfde kam te skeer is eenvoudig ongeregverdig.
In ’n gesprek op RSG raai Jansen ouers aan om hul kinders by die naaste onafhanklike (private) skool in te skryf. Om alle openbare skole summier as ontoereikend af te skryf is eweneens ’n oorvereenvoudiging.
Die oorgrote meerderheid openbare skole in Suid-Afrika met Afrikaans as uitsluitlike onderrigtaal, of Afrikaans in parallel- of dubbelmedium saam met Engels, is lede van Fedsas, die nasionale verteenwoordigende organisasie van skoolbeheerliggame.
Hierdie skole vaar besonder goed.
Ons lidskole se matriekslaagsyfer van byna 98% is ewe goed as die beste private skole in ons land s’n. Wat akademiese gehalte betref is daar dus hoegenaamd geen verskil tussen die beste private skole en goeie Afrikaanse openbare skole nie.
Jong mense wat hul skoolopleiding by Afrikaanse openbare skole voltooi, vaar nie net uitstekend aan plaaslike universiteite nie, maar skop selfs stof in die oë van hul eweknieë oorsee.
Kom ons stel dit ook sommer duidelik: Hierdie skole vaar uitstekend ten spyte van – en nie danksy nie – provinsiale onderwysdepartemente.
Dit gaan ook nie bloot oor die kurrikulum, waarvan die uitkomste deur die minister van basiese onderwys voorgeskryf word nie. Hierdie skole se prestasie is grootliks te danke aan beheerliggame wat hul taak ernstig opneem, skoolhoofde wat goeie leiding bied en toegewyde onderwysers. In hierdie skole gaan dit oor ’n goeie, holistiese opvoeding in ’n waardestelsel wat van ons kinders goeie landsburgers maak; waardes wat hulle in staat stel om hulle in enige omstandighede te kan handhaaf.
Hierdie sukses kan beslis ook nie as vanselfsprekend aanvaar word nie.
Baie is al gesê en geskryf oor die druk op Afrikaanse skole. Alles dui boonop daarop dat hierdie druk sal toeneem namate die onvermoë om die algehele stelsel te verbeter die jaloesie op Afrikaanse skole, trouens, alle openbare skole wat goed presteer, laat oplaai.
Vanjaar het ouers wéér die kans om ’n verskil te maak. Die driejaarlikse verkiesing van beheerliggame vind landwyd in Maart plaas. Ouers maak die meerderheid van die verkose lede van beheerliggame uit.
Dit is beheerliggame wat die etos van die skool bepaal, wat die ruimte moet skep waarin gehalte-onderrig kan gedy en waarin skoolhoofde en onderwysers die vereiste gehalte kan lewer. Sonder die beheerliggaam is hoofde en onderwysers eenvoudig op hulself of provinsiale onderwysdepartemente aangewese.
’n Suksesvolle beheerliggaamverkiesing vereis ’n kworum van net 15% van ouers. Die tragedie is dat baie – selfs die meeste – skole nie hierdie persentasie behaal nie. Sonder ’n kworum word die verkiesing uitgestel na ’n volgende datum, waar geen kworumvereiste dan geld nie. Dít skep natuurlik die ideale geleentheid vir diegene met verskuilde agendas wat nie die belange van die skool of die kinders vooropstel nie om beheer te neem.
Dit het weliswaar al by heelparty skole gebeur – telkens met tragiese gevolge. Nóg ons nóg ons kinders kan dit bekostig. Ouers word dus aangemoedig om deel te neem en verantwoordelike keuses te maak.
En, prof. Jansen, ek weet u kinders is klaar met skool, maar oorweeg dit gerus om u kleinkinders aan een van die honderde uitstekende Afrikaanse openbare skole toe te vertrou.
Paul Colditz is uitvoerende hoof van Fedsas.
