Zuma se planne is bloot leë populisme

2012-06-30 15:14

Afgevaardigdes by die onlangse provinsiale kongres van die ANC in die Vrystaat toon hul steun vir pres. Jacob Zuma. | Foto: Lerato Maduna

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die “tweede oorgang” is ’n gerieflike gonswoord waarmee die ANC se oorheersende Zuma-faksie die afgelope jaar vorendag gekom het.

Die idee daaragter is dat die eerste, die “politieke” oorgang van apartheid na demokrasie, plaasgevind het op grond van die onderhandelings in die vroeë 1990’s, wat op die Grondwet uitgeloop het.

Nou is dit tyd vir ’n “tweede oorgang” – een wat die stadige pas van ekonomiese transformasie die afgelope 18 jaar aanpak.

Pres. Jacob Zuma het Dinsdag in sy openingstoespraak op die ANC se beleidskonferensie gesê “wit mans” besit steeds die ekonomie en dat dit dus tyd is vir “drastiese” stappe, ’n “dramatiese skuif of reuse-sprong” en ’n “waterskeiding”.

Tony Yengeni, een van die outeurs van die “tweede oorgang”-besprekingsdokument, wil die “struggle na ’n hoër vlak” neem.

Bekyk mens die dokument van naderby, is daar egter ’n groot gaping tussen retoriek en papier.

Vreemd genoeg steun die dokument swaar op die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) van Trevor Manuel se nasionale beplanningskommissie. Manuel is ongewild by Zuma se strategiese vennoot, die SAKP, weens sy rol in die aanvaarding van die neoliberale Gear-beleid in 1996.

Die vreemde teenstrydighede bereik ’n hoogtepunt as die “tweede oorgang”-dokument Gear regverdig as ’n “taktiese ompad” ter wille van “fiskale konsolidering”.

Die dokument vra of die voortsetting van die afgelope 18 jaar se beleidsklem op uitvoer- en privaatsektor-gedrewe groei die regte ding is om te doen, maar laat die vraag net daar sonder om dit te antwoord.

Die aandrang van die ANC-jeugliga en andere op die nasionalisering van myne word afgemaak as ’n “beperkende debat” en dat die idee van ’n mengsel van eienaarskapmodelle eerder ondersoek moet word.

Zuma beaam dit in sy toespraak.

Dit is bekend dat provinsies soos KwaZulu-Natal, wat Zuma ondersteun, ten gunste is van staatsbetrokkenheid – onder meer in die vorm van belasting en vennootskappe met die private sektor.

Oor grondonteiening sê die dokument niks.

In sy toespraak het Zuma opnuut herhaal dat die “gewillige koper/verkoper”-model hersien moet word. Hy verwys afgevaardigdes na die besprekingsdokument wat bestaande ANC-standpunte oor grondhervorming herhaal.

Hoewel die retoriek dus “radikaal” klink, bevat die dokument en Zuma se toespraak op sigself geen wesenlike beleidsverandering wat ’n verskil sal maak aan die sosiaal-ekonomiese trajek van die afgelope 18 jaar nie.

Sowel Cosatu as die SAKP, laasgenoemde by monde van hul adjunk-sekretaris-generaal, Jeremy Cronin, kritiseer die dokument.

Cronin maak egter dan versoenende geluide deur te sê dat die dokument ons ten minste herinner aan die belangrikheid van sosiaal-ekonomiese transformasie.

Om sy party se bestaansbeginsels so opsy te skuif is aanduidend van Cronin en die SAKP se belegging in Zuma as samebindende beeldhoof van ’n uiteenlopende stel politieke posisies.

Cosatu is meer ambivalent, maar Zuma blyk steeds aanvaarbaar vir heelparty elemente in die vakbond-federasie.

Met Zuma se gebruik van die idee van ’n “tweede oorgang” om uiteenlopende groeperings simbolies saam te bind, doen hy as’t ware ’n “Malema”.

Hy neem die drukkendste probleem in post-apartheid-Suid-Afrika – sosiaal-ekonomiese ongelykheid – en stel homself as die een wat bereid is om dit “radikaal” te verander. Ongeag die feit dat daar niks wesenlik anders aan bod is as jy verby die retoriek kyk nie.

Zuma se politiek word gereeld as populisties bestempel.

Maar eerder as om populisme as “irrasioneel” te verstaan kan ’n mens Zuma se benadering ontleed aan die hand van die Argentynse post-Marxis Ernesto Laclau se boek On Populist Reason.

Hierin beskryf hy populisme as ’n stel praktyke wat deur enige politieke beweging, ongeag ideologiese oriëntasie, gebruik kan word.

Hiervolgens word ’n underdog as agent geskep wat die institusionele orde bevraagteken. Op dié manier skep populiste ’n “ons en hulle”-skeiding waarin die underdog in opposisie tot die bestaande orde staan.

Zuma het homself tot dusver bewys as die meester van populisme en underdog-politiek. Hy is net ’n gewone ou sonder fênsie grade, net ’n soldaat wat hou van sing, dans en trou.

Nie net het hy homself suksesvol geprojekteer as ’n slagoffer van oudpres. Thabo Mbeki nie, maar ook van “Kwezi”, die vrou wat hom van verkragting beskuldig het, en, meer onlangs, van “die wit man” Brett Murray en sy satiriese skildery The Spear.

Hy gebruik die konsep van die “tweede oorgang” om te sê die ANC moes tydens die onderhandelings “kompromieë” aangaan wat beteken dat die “ekonomiese magsverhoudings van apartheid behoue gebly het”.

Hy is dus aan die kant van die underdogs teen die verteenwoordigers van “die magsverhoudings van apartheid”.

In die werklike lewe bestaan politiek en ekonomie nie in netjies afgebakende kategorieë naas mekaar nie (soos Zuma wil voorgee), maar in ’n mede-konstruktiewe verhouding.

Een van die lede van Zuma se “koalisie van verwondes” en ’n voorstander van die “tweede oorgang” is Ngoako Ramatlhodi.

Sy aanslag verlede jaar op die oppergesag van die konstitusionele hof eggo Zuma se basiese argument.

Onder meer was sy woorde: “Apartheidsmagte het daarin geslaag om wit dominasie onder ’n swart regering te behou. Dit het hulle gedoen deur werklike politieke mag van die wetgewer en uitvoerende gesag (te weerhou)... Dus het ons ’n Grondwet wat die groot kompromis weerspieël ... ten gunste van magte teen verandering.”

Die deur is oopgemaak om die grondliggende waardes en beginsels van ons konstitusionele demokrasie te bevraagteken. Soos die tyd aanstap en relatiewe ongelykhede meer maatskaplike onrus skep, sal die versoeking al hoe groter vir die regerende elite raak om hierdie grondbeginsels te ondermyn.

Die eerste salvo’s is reeds gevuur in die vorm van die aanslae op die vloei van inligting en op grondwetlike instellings.

Christi van der Westhuizen is navorsings­genoot by die Internasionale Instituut vir Studies in Ras, Versoening en Sosiale Geregtigheid aan die Universiteit van die Vrystaat.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
15 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 10-18°C High level clouds. Mild. Pta: 2-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 3-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-19°C Morning clouds. Mild.
Dbn: 7-22°C Sunny. Mild. PE: 11-18°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Good Morning, Mr Mandela van Zelda la Grange

Good Morning, Mr Mandela vertel die uitsonderlike verhaal van hoe ’n jong vrou se lewe, oortuiginge, vooroordele en alles waarin sy eens geglo het verander is deur die grootste man van haar tyd. Nou R221. Plaas jou voorafbestelling nou!

Bespaar 25% op die gewildste 25 boeke!

Kry 25% afslag op die topverkoperboeke, wat insluit Low-Carb Living for Families, The Book Thief, How to Train Your Dragon en nog baie meer. Koop nou!

Tot 60% afslag met die opruimingsverkoping!

Bespaar tot 60% op toestelle, boeke, elektroniese ware, speelgoed, flieks en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe Afrikaanse uitreikings

Sien jy uit na die nuutse Afikaanse titels? ’n Vuurwarm verskeidenheid boeke is beskikbaar by kalahari.com. Bestel nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!