’n Ode aan Jozi
2010-08-28 14:13
Daar was ’n advertensie vir die kolehandelaar McPhail teen daardie muur – ’n swart Skotse terriër wat sê “Mac won’t ‘Phail’ you”.
Arthur Murray was aan daai kant. En Millews… jou vrou kyk waarheen jy wys, maar jy bly stil. Die naam “Millews” staan nog op presies dieselfde plek. Weliswaar in ’n meer moderne lettertipe as destyds, maar op presies dieselfde plek.
Skielik is jy terug in 1967. Van der Byl-plein is vol rooi-en-wit dubbelverdieping-busse en rooi bankies met die woorde “Europeans Only/Slegs Blankes” op die rug geverf.
Dis altyd lekker om jou lyf toeris in jou eie stad te hou. Deur die bekende soos ’n vreemdeling te benader sien jy nuwe goed raak. Lyk dinge vars en anders.
Dis waarom ek onlangs twee kaartjies koop vir ’n toer van die Johannesburgse middestad – of soos hulle in Engels sê “downtown Johannesburg”.
Want “downtown Johannesburg” is ’n plek wat my al dekades lank betower.
Dis die plek wat ek en my broers in die laat sestigerjare platgeloop het op soek na vuurhoutjieboekies tydens die matchbook craze van daardie jare.
By hoeveel restaurante, reisagente en ander ondernemings het ons nie aangeklop om in ons beste voorstedelike Engels te vra: “Have you got any book matches?”
Dit is ook die plek waar ek vyf jaar lank my etensure in boek- en plaatwinkels omgedool het. Waar ek die Beach Boy Al Jardine voor die Drilsaal raakgeloop het en hy verstom was dat iemand op ’n sypaadjie in Afrika geweet het wie hy was.
Dit is waar ek een aand gaan luister het toe Frederik Van Zyl Slabbert verduidelik het hoekom hy nie meer langer in die Wit Parlement kon bly nie en waar Oom Bey Naudé op dieselfde vergadering sy mede-Afrikaners op Afrikaans gesmeek het om tot hul sinne te kom, “want ons het nêrens anders om heen te gaan nie”.
Hier het ek die musiek van Mike Dickman, Sipho & Johnny, David Kramer (“But when the shit starts to fly, then you run overseas”) Kakie Monitor (“Ons is gebo-o-ore om hier te vrek!!!”) en James Phillips (“How do I live, how do I live in this strange place”) ontdek.
Gesien hoe Khotsohuis lyk nadat die destydse regering dit opgeblaas het. Beleef hoe Johannes Kerkorrel ’n hele gehoor rekenmeesters uit Randburg laat sing: “Sit dit af, sit dit af.”
En dit is ook die plek waar mans met rooi kopbande en knopkieries een oggend mense uit voertuie gepluk en aangerand en geweerskote tussen die hoë geboue geklap het. Daardie middag was die strate vol verdwaasde mense wat gelyk het soos vlugtelinge in ’n swart-en-wit oorlogfliek. Oor die radio het jy gehoor daar is 53 mense doodgeskiet buite Shell House, dieselfde gebou waarna jy etenstye staan en kyk het terwyl jy jou toebroodjies geëet het toe jy nog trein- en bustydtafels vir ’n lewe vertaal het.
’n Jaar of wat ná daardie oggend het daar ’n bom ontplof ’n paar treë van die hotel waar ek soms saam met kollegas ’n dop gaan maak het om die vertaal van bus- en treintydtafels interessanter te maak. ’n Reuse-bom wat ’n hele ry winkels soos ’n gewonde betondier langs Breëstraat laat kniel het.
Op daardie dieselfde dag koop ek ’n 1917-huis 3?km van die binnestad se rand. Die ander mense wat ’n aanbod wou maak, doen dit nie. Later vind ek uit hulle is beseer in die Breëstraat-bomaanval.
Twee weke later gaan stap ek met my seun op my rug en sien ’n nuwe vlag bo die polisiekantoor wapper.
“Ons het gewen,” sê ek aan hom. En besef dan dat ek tot op daardie oomblik amper nie geweet het ek is aan enigiemand se kant nie.
Sestien jaar later is jou seun groot genoeg om jou op sý rug te dra. Julle staan onder die reuse- geel sokkerspeler wat uit 5?500 geel Nike-sokkerballetjies gemaak is in die Carlton-sentrum se binnehof. Net so verwonderd as wat jy die oggend van 27 April 1994 was.
Twee dae ná my ontmoeting met die sokkerreus gaan ek toe op my toer van die middestad.
Die gevoel van toeris wees word versterk deur die feit dat amper almal op die bus, behalwe die bestuurder, wit is. ’n Mens onthou busritte deur ander stede in ander lande.
Maar in daardie stede ken jy nie die beeldhouers wie se beelde langs die strate staan nie. Die beeldhouer van die groot eland buite Wits en jy het saam diensplig gedoen. Een van die skeppers van die beeld van die vrou met die konka op haar kop het jy skrams op kinderpartytjies leer ken.
Maar uit die hoë vensters van ’n toerbus lyk selfs die bekendste sypaadjie anders. Die handgeverfde kennisgewings en advertensies is makliker om te lees. Jy hoef nie oorgeesdriftige verkopers van spieëlkouse en nagemaakte Bafana Bafana-truie te ontduik nie. Deur die glas besef jy hoe skoon die stad is en hoe baie dit verander het.
Jy kan nie jou pa met sy hoed en sy bruin leertas met sy Tupperware-kosblik binne-in op pad na sy kantoor op hierdie sypaadjies voorstel nie.
Ook nie jou ma met haar handsak, handskoene en vier spruite op pad na Greatermans se jaarlikse “White Sale” nie.
Maar jy weet ook dat jou kinders die sypaadjies van hul geboortestad nog nooit anders gesien het nie.
Die laaste maal wat jy by die Faraday-moetiemark was, was jy bekommerd oor jy geparkeer het waar daar nie karwagte was nie. Dus het jy nooit die wildebeesskedels, die varsgeslagte luislange, krokodilvelle en bobbejaankarkasse gesien nie.
Die vorige keer toe jy met Eloff Street Extension deur Motortown ry, het jy nie gesit en luister hoe die argitek Clive Chipkin liries raak oor die argitektuur van Chrysler House nie.
Die laaste maal wat jy ’n vergadering in die intimerende Mainstraat 44 gehad het, was die historikus Sue Krige nie met ’n luidspreker aan jou sy nie.
Voordat jy Graeme Reid oor die ultra-luukse Mapungubwe-hotel in Andersonstraat hoor praat het, was al wat jy daarvan geweet het dit wat jy in dekortydskrifte gelees het.
Al hierdie dinge maak ’n gewone Saterdagoggend in die stad ’n bietjie opwindender as gewoonlik en maak dit maklik vir jou kopklok om terug te spring na 1967.
Toe het Gandhi-plein nog Van der Byl-plein geheet. Op die suidwestelike hoek was Eskom-huis, wat in 1983 ingeplof en gesloop is.
Net wit mense is op die rooi-en-wit dubbeldekkerbusse toegelaat.
Nou is ek en my mede-toerbuspassasiers amper die enigste wittes op die plein. Op ’n voetstuk staan ’n jong en fier brons Mohandas Gandhi in ’n pak klere. Teen die voetstuk is sy beroemde afskeidswoorde aan Jozi: “I learnt during all those years to love Johannesburg even though it was a mining camp. It was in Johannesburg that I found my most precious friends. It was in Johannesburg that the foundation of passive resistance was laid in September 1906. Johannesburg therefore had the holiest of all the holy associations that Mrs. Ghandi and I will carry back to India.”
Johannesburg is nie meer ’n mynkamp nie, maar ons ken nog steeds ons kommoditeitspryse. Daarom is daar ’n elektroniese alarm onder Gandhi se brons-voet, net om seker te maak dat een van ons baie skroothandelaars hom nie een nag kom oplaai nie.
- Rapport