45 en steeds laat sy koppe draai
2011-12-10 23:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Kyk net daai lyf!
En dit twee dekades nadat die voormalige supermodel Cindy Crawford loopplanke beloop en op honderde glanstydskrifte se voorblad gepryk het.
Crawford (45) het onlangs die koppe in Mexiko laat draai toe sy in ’n eina-tweestuk op die strand verskyn het.
Sy het al in 2000 amptelik opgehou modelwerk doen, maar dis duidelik dat sy haar lyf deur die jare opgepas het.
Crawford het saam met haar man, Rande Gerber, en hul kinders, Presley Walker (12) en Kaia Jordan (10), in die see by Cabo San Lucas baljaar.
Sy was by die eeuwisseling no. 5 op Playboy se lys van die 100 sexyste sterre van die 20ste eeu. In 1997 is sy in ’n peiling deur die tydskrif Shape aangewys as die naasmooiste vrou ter wêreld (ná Demi Moore).
Crawford het in Mei vanjaar haar terugkeer tot die modelwêreld gemaak toe sy op die voorblad van Vogue in Mexiko gepryk het.
Die Gerber-familie is gereelde besoekers aan dié land en was ook verlede jaar in die feestyd daar.
Hulle woon in Malibu, Kalifornië.
Dié jaar is hulle in Mexiko vergesel deur vriende, onder wie die pasgetroude paartjie Scott Stuber en Molly Sims, asook George Clooney.
Crawford se voorkoms het vanjaar ’n hele paar keer positiewe reaksie ontlok.
Sy het in ’n rooi rok by die Venesiese rolprentfees geskitter en is daarna in ’n nousluitende lyfpak vir ’n Harper’s Bazaar-advertensie in Singapoer gekiek.
Sy het ook lyf gewys in ’n nuwe musiekvideo van Duran Duran.
Bronne: www.huffingtonpost.com; www.popsugar.com