Afrika-Unie luister na Zim-boere
2012-11-22 09:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Sarel van der Walt, BEELD
Die menseregtekommissie van die Afrika-Unie (AU) het besluit om die saak aan te hoor van twee Zimbabwiese boere wat al jare lank in ’n stryd met die regering van pres. Robert Mugabe is oor sy grondvergrype.
Die twee boere, Luke Tembani en Ben Freeth, het hulle tot dié kommissie gewend nadat die leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) dié organisasie se tribunaal gestaak het.
Die 14 staatshoofde van die lidlande van die SAOG het die tribunaal se werk in Augustus verlede jaar gestaak sodat die “werkwyse daarvan ondersoek kan word”.
Die tribunaal het in 2008 in Windhoek beslis die Mugabe-regering se grondvergrype is nie net rassisties nie, maar ook onwettig.
Die hof het ook gelas boere wie se grond by hulle afgeneem is, moet daarvoor vergoed word.
Zimbabwe het hom tot dusver nie aan die tribunaal se beslissing gesteur nie.
Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het reeds vroeër sy steun toegesê aan ’n veldtog om die tribunaal te red.
Freeth het in ’n verklaring gesê hy meen die besluit van die AU-menseregtekommissie om hul saak aan te hoor, sal druk op die SAOG plaas om sy tribunaal toe te laat om met sy werk voort te gaan.