Blitse van Spele het gene van Afrika se slawe

2012-07-21 21:05

Usain Bolt (heel regs) steek die wenstreep oor in die 100?m vir mans in die Nasionale Stadion by die Olimpiese Spele in Beijing in Augustus 2008. Bolt se tyd van 9.69 sek. was ’n rekord. | Foto: Getty

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

’n Superieure “atletiekgeen” in die afstammelinge van die slawe uit Wes-Afrika wat na Amerika en die Karibiese Eilande weggevoer is. Dít is waarom die wêreld se super-vinniges van ­Jamaika en Amerika kom.

Boonop het nét die heel sterkste slawe die verskriklike reis en die onmenslike omstandighede oorleef.

Dié slawe is die voorsate van die naelloopwonders vir wie ’n tyd van minder as 10 sek. in die 100 m alledaags geword het.

So sê die Olimpiese legende Michael Johnson, wenner van vier Olimpiese goue medaljes.

Hy hou steeds die wêreld- en Olimpiese rekord in die 400m en die 4 x 400m-aflos.

Vanjaar se 100 m vir mans, wat as die Spele-hoogtepunt beskou word, het weer sy kwota Jamaikane en Amerikaners onder die gunstelinge: Usain Bolt, Yohan Blake, Asafa Powell, ­Michael Frater en Nesta Carter (Jamaika), Justin Gatlin en ­Tyson Gay (Amerika) en Marc Burns (Trinidad en Tobago).

Johnson het in Britse koerante gesê navorsing word gedoen oor die hipotese dat top-atletiekvermoë daaraan toegeskryf kan word dat die uitblinkers almal slawe-afstammelinge is.

Slawe uit Wes-Afrika is aan ’n streng “keuringsproses” onderwerp en daarna is selektiewe “voortplantingsmetodes” deur slawe-eienaars in Amerika en op die Karibiese Eilande toegepas.

Nie alle Jamaikaanse atletiekuitblinkers stem hiermee saam nie. Die eertydse Olimpiese kampioen Linford Christie meen ­Jamaika presteer so uitsonderlik “omdat atletiek ’n Jamaikaanse leefwyse is”.

Christie het in 1992 vir Brittanje deelgeneem, maar het in Jamaika grootgeword.

In ’n CNN-program vertel Bolt hy glo die sleutel tot sy land se sukses is die intense mededinging onder atlete van ’n jong ouderdom af.

Hy stem saam met die befaamde Jamaikaanse afrigters Dwayne Jarrett en Maurice Wilson: Kinders wat die geringste talent toon, word van kleins af aan die beste afrigting en felste mededinging blootgestel.

“Baie lande probeer ons dit nadoen, maar kry dit nie reg nie. Ons jaarlikse nasionale atletiekkampioenskap vir seuns en meisies is die grootste skolegeleentheid ter wêreld,” sê Jarrett.

Wilson dryf sy atlete van jongs af op ruwe terreine teen bulte uit en leer hulle die fynste tegnieke, soos dat die eerste ­
10 meter “’n geleidelike versnelling is. Dan tel jy spoed op en dwing jouself vorentoe.”

Powell sê: “Die adrenalien pomp van ’n vroeë ouderdom af. Ons leer as kinders al hoe dit in ’n Olimpiese stadion voel.”

Bolt sê “jy word gedruk om die beste in jou atletieknommer te wees. Die vroeë blootstelling aan groot stadions en TV het gehelp vir my vrees om voor miljoene mee te ding.”

Dr. Francois Cleophas, senior lektor in sportgeskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, het aan Rapport gesê hy respekteer Johnson se perspektief, “maar dis een van baie. As hy sy familiegeskiedenis nagaan, sal hy waarskynlik ’n verskeidenheid mense in sy voorgeslagte vind!

“Natuurlik hang jou naelloopprestasie van jou DNS af, maar ook van buitefaktore.

“Dis al gesê die Keniane vaar so goed in lang afstande omdat hulle in die berge hoog bo seevlak woon. Maar waarom presteer die Tibetane dan nie in lang afstande nie? Hulle woon nóg hoër. Dis omdat die Keniane hulle in skolesport op lang afstande toelê.

“In Jamaika word atletiek van jongs af in kinders ingedwing.

“Hul sintuie word geprikkel. Hulle het van die beste afrigters wat ten volle deur hul skoolstelsel gesteun word.”

Dit is waar dat liggaamstruktuur ’n rol speel, sê Cleophas.

“Maar maatstawwe verander gereeld. Kyk hoe anders het die 100m-helde van 50 jaar gelede gelyk. Eers is gesê as jy swaar is, gaan jy nie vinnig wegkom nie, maar sedert die 1980’s is almal behep met sterk spiere.

“Maar mense met ’n sterk, gespierde liggaam woon nie nét in Jamaika nie.”

Cleophas sê vir die Keniane en Ethiopiërs wat hulle op lang afstande toespits, “gaan dit oor baie méér as atletiek. Hulle doen dit ook in landsbelang, veral ná onafhanklikheid. Hul atlete word op regeringsvlak vereer.”

Dr. Ross Tucker en dr. Jonathan Dugas, kenners van oefenings­fisiologie en medeskrywers van The Runner’s Body, sê sukses is te danke aan die samekoms van kernfaktore.

“Daar ís ’n faktor soos gene of inherente vermoë. Maar oefening en gene werk saam – hulle sluit mekaar nie uit nie.

“Studies wat Jamaikaanse ­naellopers en Oos-Afrikaanse langafstandhardlopers vergelyk, het nog geen besondere geen wat die verskil sou maak, gewys nie. ’n Klomp faktore werk saam: mededinging, ­dieet, fisiologie, leefstyl, kultuur en rolmodelle.

“Die gevolg is ’n volmaakte mengsel wat atlete produseer wat Olimpiese goud wen.”

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 10-18°C High level clouds. Mild. Pta: 2-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 3-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-19°C Morning clouds. Mild.
Dbn: 7-22°C Sunny. Mild. PE: 11-18°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Good Morning, Mr Mandela van Zelda la Grange

Good Morning, Mr Mandela vertel die uitsonderlike verhaal van hoe ’n jong vrou se lewe, oortuiginge, vooroordele en alles waarin sy eens geglo het verander is deur die grootste man van haar tyd. Nou R221. Plaas jou voorafbestelling nou!

Bespaar 25% op die gewildste 25 boeke!

Kry 25% afslag op die topverkoperboeke, wat insluit Low-Carb Living for Families, The Book Thief, How to Train Your Dragon en nog baie meer. Koop nou!

Tot 60% afslag met die opruimingsverkoping!

Bespaar tot 60% op toestelle, boeke, elektroniese ware, speelgoed, flieks en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe Afrikaanse uitreikings

Sien jy uit na die nuutse Afikaanse titels? ’n Vuurwarm verskeidenheid boeke is beskikbaar by kalahari.com. Bestel nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!