Brooke vies oor kritiek op haar ma
2012-11-11 06:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die aktrise Brooke Shields (47) sê haar ma, Teri, wat onlangs oorlede is, verdien nie die kritiek vir die omstrede loopbaankeuses wat sy namens haar dogter gemaak het nie.
Teri (79) het Brooke onder meer die rol van ’n kinderprostituut in die 1978-fliek Pretty Baby laat speel toe sy ’n brose 11 jaar oud was.
Hoewel dié Louis Malle-fliek en Brooke se speeltalent goed ontvang en beskryf is as verbeeldingryk, intelligent en oorspronklik, het dit nogtans kritiek ontlok omdat sy so jonk was. Dit het haar ma egter nie van stryk gebring nie en op 14 verskyn Brooke in die ewe omstrede Blue Lagoon, wat handel oor ’n seun en ’n meisie wat op ’n eiland beland.
Brooke moes voor ’n kommissie van ondersoek getuig dat ’n dubbelganger vir die naak- en sekstonele in die fliek gebruik is en dat haar hare op haar borste vasgeplak is om te keer dat dit ontbloot word.
Op 15 het sy met haar ma se goedkeuring in ’n suggestiewe advertensie vir Calvin Klein Jeans poseer waarin sy sê: “Niks kom tussen my en my Calvins.”
Brooke hou vol dat haar ma haar teen “soveel verwoestende dinge in die vermaaklikheidsbedryf beskerm het, soos jaloesie en verwerping”.
Teri Shields is op 31 Oktober dood weens demensie-verwante komplikasies. Sy was ’n haarstilis, grimeerkunstenaar en ’n model voor sy en Brooke se pa getroud is. Hulle is maande ná haar geboorte in 1965 geskei. Brooke was nog in babadoeke toe sy in haar eerste advertensie verskyn het.
Brooke het haar ma in 1995 as haar bestuurder “afgedank” toe sy nie haar drankverslawing te bowe kon kom nie.
“Sy was ’n baie groot deel van my lewe en ek is seergemaak deur al die onnodige kritiek op haar,” het Brooke ná haar ma se dood aan The Hollywood Reporter gesê.
– Bykomende bron: Wikipedia