Charlize mik na Globe vir spel in komedie
2012-01-14 23:30
Charlize Theron is vanaand (Amerikaanse tyd) dalk weer aan die ontvangkant in Hollywood wanneer die jaarlikse Golden Globe-pryse oorhandig word.
In die afdeling beste aktrise in ’n komedie of musiekspel kom sy te staan teen Jodie Foster en Kate Winslet (albei vir Carnage), Kristen Wiig (Bridesmaids) en Michelle Williams (My Week with Marilyn).
Theron se benoeming is vir haar spel in die komedie Young Adult. Sy vertolk die rol van Mavis Gary, ’n fiksieskrywer wat ná haar egskeiding terugkeer na haar tuisdorp om haar romanse met ’n ekskêrel te hervat. Hy is egter sedertdien getroud en die pa van ’n pasgebore dogter.
Die benoemings vir beste fliek is The Descendants, The Help, Hugo, The Ides of March, Moneyball en War Horse.
George Clooney (The Descendants), Brad Pitt (Moneyball), Ryan Gosling (The Ides of March), Michael Fassbender (Shame) en Leonardo DiCaprio (J. Edgar) ding mee om die prys vir beste akteur in ’n drama. In die vrouekategorie is Glenn Close (Albert Nobbs), Viola Davis (The Help), Rooney Mara (The Girl with the Dragon Tattoo), Meryl Streep (The Iron Lady) en Tilda Swinton (We Need to Talk About Kevin).
Theron is g’n vreemdeling op die wennerspodium nie en spog reeds met ’n Oscar as beste aktrise vir haar vertolking van die reeksmoordenaar Aileen Wuornos in Monster. Sy is vir nog Oscar benoem vir haar spel in North Country (2005).
Suid-Afrikaners kan dié glansgeleentheid môre van 03:00 op M-Net volg.