Dlamini-Zuma en Ping van Gaboen in ’n tawwe stryd om die AU-voorsitterskap
2012-01-28 23:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit is onseker of Suid-Afrika se minister van binnelandse sake, me. Nkosazana Dlamini-Zuma, die huidige voorsitter van die Afrika-Unie (AU), mnr. Jean Ping van Gaboen, kan ontsetel.
Die verkiesing in dié voorsitterskapstryd vind môreoggend plaas. Sommige ontleders meen al geniet die twee kandidate byna ewe veel steun, sal nie een van hulle die tweederde-meerderheid kry wat nodig is om die verkiesing te wen nie. Dlamini-Zuma sal na verwagting 30 stemme kry en Ping 24. Ander meen Dlamini-Zuma is al verseker van 34 stemme terwyl nog agt lande nog “wankelrig” is.
Altesame 53 uit die 55 Afrika-lande mag stem. Marokko is nie deel van die AU nie en Madagaskar is uit dié unie geskors.
Maar dalk, meen ander, tel sy Franse agtergrond in Ping se guns, asook dat hy tans die voorsitter is. Tog kan Dlamini-Zuma se kragdadige veldtog die laaste paar maande wel vrugte dra. Die veldtog was immers baie intenser as wat verwag is, sê mnr. Jakkie Cilliers, direkteur van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS). “Dié veldtog bring die verhouding met Nigerië in die gedrang. Suid-Afrika het in wese vir Nigerië gesê as hy nie vir Dlamini-Zuma stem nie, sal Suid-Afrika dit onthou.”
Maar volgens fluisteringe in die gange van die AU-hoofkantoor in Addis Abeba gister probeer Nigerië Suid-Afrika oortuig om hom te steun om (politieke) voorsitterskap van die AU in ruil vir Nigerië se steun aan Dlamini-Zuma as (administratiewe) hoof van die kommissie.
“As Frankryk jou nasionale begroting finansier, hoe kan jy weier om te doen wat Frankryk vra,” sê ’n Suid-Afrikaanse amptenaar oor kleiner Franssprekende Afrika-lande wat nog sterk op Franse hulp steun.