Egipte brand 2de keer in twee jaar
2012-12-11 11:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
SUNÉ KITSHOFF IN KAAPSTAD en AFP, SAPA
Betogings het die afgelope week weer op die Tahrir-plein in Kaïro uitgebreek, dié keer teen pres. Mohamed Moersi se plan om die grondwet ingrypend te verander.
Dit kom skaars twee jaar nadat hulle die vorige staatshoof, Hosni Moebarak, ontsetel het.
’n Referendum oor wysigings wat strenger Islamitiese praktyke in die grondwet sal verskans, het gelei tot ’n breuk tussen Moslems wat die sjaria-wette nastreef en liberale wat menseregte vooropstel. Die National Salvation Front (NSF), die opposisie-koalisie teen Moersi en die regerende Moslem Broederskap (MB), is gekant teen Moersi se referendum volgende Saterdag waarin dié radikale wysigings na verwagting goedgekeur sal word.
Die geweld Woensdag en Donderdag waarin sewe mense dood en sowat 600 ernstig beseer is, is die ergste sedert Moersi in Junie aan die bewind gekom het.
Ná die geweld Woensdagaand is kennisgewings van veldhospitale Donderdag op Facebook geplaas indien die “vuurwerk weer sou opvlam”.
“Geen wapens word toegelaat nie. Bid vir ons,” het die boodskap gelui.
Al-Ahram, ’n staatsbeheerde koerant, het gister berig Moersi sal die weermag magtig om die polisie by te staan om orde te handhaaf. Die Egiptiese kabinet het ’n regsmaatreël goedgekeur waarkragtens die gewapende magte die betogers in hegtenis kan neem. Egipte se 83 miljoen burgers is dus opnuut vasgevang in politieke oproer terwyl die ekonomie steier.
Die politieke krisis het ook Amerika se aandag getrek omdat Moersi as bemiddelaar tussen Israel en Palestina optree.
Mohamed El-Baradei, voormalige hoof van die Verenigde Nasies se Atoomagentskap, het Vrydagaand op nasionale televisie gesê dialoog is net moontlik as Moersi die verordening herroep en die referendum uitstel. Egiptenare in die buiteland sal die volgende Woensdag stem.
Mahmud Mekki, adjunkpresident, het gesê Moersi kan slegs die referendum uitstel as die opposisie waarborg dat geen regsuitdaging op die referendumbesluit sal volg nie.
* Liberale en sekulêre teenstanders van die president het eergister by die presidensiële paleis byeengekom. Hulle het die doringdraad geknip en teen die buitemure van die paleis opgeklim om graffiti-boodskappe daarop te spuitverf.
Moersi-ondersteuners het ’n optog gehou en wraak gesweer oor dié wat in die week dood is.

Die Egiptiese weermag versper die gebied om die presidentswoning terwyl betogers slagspreuke teen hul nuwe staatshoof, pres. Mohammed Moersi, dreunsing. Die geweld weens verset teen sy voorgestelde wysigings aan die grondwet het die afgelope week op bloedige skermutselings tussen die betogers en die president se ondersteuners uitgeloop. Foto: Hassan Ammar/AP