Europese media swartgallig oor SA se toekoms
2012-09-16 00:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
LEOPOLD SCHOLTZ IN DEN HAAG
Die Europese media het dié week ’n taamlik donker prentjie geskilder van die situasie in Suid-Afrika na aanleiding van die voortgesette arbeidsonrus in die mynsektor.
Daar word veral klem gelê op die onvermoë van die ANC om dinge tot bedaring te laat kom en die invloed wat Julius Malema op die gang van sake het.
Dalk die mees kritiese geluid was van Brendan O’Neill op die webwerf van die Londense The Daily Telegraph. Hy het ’n vurige aanklag neergepen teen politiek korrektes in Europa wat China en Rusland weens wantoestande kritiseer, maar swyg oor die ANC se wanbestuur. Net soos Westerse leiers in die verlede weens hul eie ekonomiese belange in Suid-Afrika sag op die apartheidsregering was, plaas hulle nou hul eie oordrewe verwagting oor die wonderlike nuwe Suid-Afrika “bo die lewe en vryheid van die swart werkers wat daar woon”, skryf hy.
In The Guardian haal David Smith die veteraanjoernalis Allister Sparks aan, wat van ’n “ramp” (cataclysm) praat.
“Die ANC was in die swart gees, die swart siel, dit het ’n byna mitiese kwaliteit gehad.
“Maar nou het hulle hul geloof in die party verloor. Die band is verbrysel en dit het op televisie gebeur.”
Die BBC het in sy programme en op sy webwerf die soeklig laat val op die posisie van Malema, geskorste ANC-jeugleier, en sy aanwending van die Marikana-skietery om Zuma by te kom.
Die kommentator William Mervin Gumede is só aangehaal:
“Dis moeilik om Malema in ’n vakkie te plaas. Hy gebruik die retoriek wat hom op ’n bepaalde tydstip pas.”
Malema is soortgelyk aan die leiers van pres. Robert Mugabe se Zanu-PF, volgens Gumede.
Hulle spreek konserwatiewe idees uit oor maatskaplike sake soos gay-huwelike.
“As dit by die ekonomie kom, gebruik hulle sosialistiese retoriek, maar hulle is inderwaarheid kapitaliste wat die staat gebruik om hul eie politieke en sakebelange te bevorder.”
Claudia Bröll berig in die Frankfurter Allgemeine Zeitung dis nog onseker of Marikana ’n keerpunt in die Suid-Afrikaanse geskiedenis is of net ’n verdere hoofstuk in die arbeidsonrus.
Sy wys daarop dat die ekonomiese kloof tussen arm en ryk sedert 1994 verder gegroei het en dat dit ’n populis soos Malema uitstekend pas.
In die Frankfurter Rundschau is Johannes Dieterich se harde oordeel dat ’n “politieke en ekonomiese ramp” ná 18 jaar van ANC-bewind ontwikkel. “Die ANC het nóg ’n visie nóg ’n idee hoe hy die skerper wordende kloof kan oorbrug.”
Hy haal die ontleder Aubrey Matshiqi aan, wat sê net ’n vonk is nodig om Suid-Afrika in vlamme te laat opgaan.