Frankryk se leiers klink soos Mafia
2011-09-17 21:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Terwyl pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk die afgelope week saam met die Britse premier, mnr. David Cameron, soos ’n held in Tripoli en Benghazi, Libië, ontvang is, het die onweerswolke tuis saamgepak soos Franse politici van korrupsie beskuldig is.
Dit het soms geklink of daar eerder oor die Italiaanse Mafia as oor die Franse leiersklas gepraat word.
Oudpres. Jacques Chirac het die afgelope week in die hof in Parys tereggestaan op aanklagte dat hy as burgemeester van Parys (voordat hy president geword het) poste vir politieke vriende geskep het waarvoor hulle goed betaal is sonder dat hulle ooit ’n steek werk gedoen het.
Chirac was nie self in die hof nie.
Sy advokaat het aangevoer die oudpresident is te siek en daarop gesinspeel hy ly aan Alzheimersiekte.
Oudpremier Dominique de Villepin, Chirac se luitenant, was in ’n onverwante kwessie ook saam met sy voormalige baas in die spervuur.
Mnr. Robert Bourgi, ’n Frans-Libanese prokureur, het onthul dat hy aan die begin van die eeu gereeld miljoene frank in koffers uit verskeie Afrika-state saamgebring het om Chirac se herverkiesingsveldtog te reël.
Hy het in ’n opsienbarende onderhoud met die Franse blad Le Journal du Dimanche gesê die skenkers was press. Abdoulaye Wade (Senegal), Blaise Compaoré (Burkina Faso), Laurent Gbagbo (Ivoorkus), Denis Sassou Nguesso (Kongo-Brazzaville), Omar Bongo (Gaboen) en Obiang Mbasogo (Ekwatoriaal-Guinee).
Dit gaan glo om ’n bedrag van meer as R600 miljoen.
De Villepin het dit ontken en aangekondig hy gaan Bourgi vir laster dagvaar.
Deel van die agtergrond hier is dat Bourgi tans ’n raadgewer van Sarkozy is.
Sarkozy en De Villepin kan mekaar glo nie verdra nie. In Parys word dus hardop gefluister Sarkozy sit eintlik agter die bewerings teen sy vyand.
Maar ook Sarkozy het nie heeltemal ongeskonde uit die week se moddergooiery getree nie.
Hy het De Villepin etlike maande gelede daarvan laat aankla dat dié bewerings versprei het dat sy verkiesingsveldtog deur korrupte sakelui gefinansier is, maar De Villepin is nou finaal hiervan vrygespreek.
Dit beteken dat die bewerings teen Sarkozy opnuut opduik. Bose tonge beweer Sarkozy is saam met Chirac deur verskeie Afrika-diktators gefinansier.
As al dié bewerings waar sou wees, is Frankryk sekerlik een van die mees korrupte lande ter wêreld. Sarkozy het in Libië weliswaar ’n effense asempouse geniet, maar dat al die korrupsiebewerings hom skade aandoen, is seker.