Gekultiveerde Britte wys hul agtertangsheid
2010-03-06 23:08
Die een voorval ná die ander is op mekaar gestapel. Uiteindelik was die wedersydse afkeer tussen pres. Zuma en die Britse samelewing só duidelik dat hy met sy vertrek ’n bitter smaak in die mond moes gehad het.
Die Britse pers gaan al maande lank te kere oor Zuma se veelwywery, sy hordes kinders en sy rondslapery. Dit was dus nie vreemd nie dat ’n rubriekskrywer van die The Daily Mail, Stephen Robinson, ’n giftige aanval op die president gedoen het deur na hom te verwys as ’n “seksgeobsesseerde dweper” en ’n “walglike hanswors”. Hy het ook na sy “maniese promiskuïteit” verwys.
Internasionale etiket vereis dat ’n besoeker, ongeag hoe hy werklik voel, beleefd sal glimlag en bo sulke onbeskoftheid verhewe sal wees.
Maar aan die vooraand van sy vertrek het Zuma ’n fout begaan deur in ’n onderhoud met die koerante van die Suid-Afrikaanse Independent-groep te velde te trek teen die Britse “neerbuigende imperialiste” wat meen alles uit Afrika is barbaars.
Dié verontagsaming van etiket is met oorgawe op sy brood gesmeer. Die rubriekskrywer Will Heaven het in die The Daily Telegraph reguit gesê Zuma se kultuur is nie barbaars nie, “maar jy is beslis”.
Dalk kon Zuma iets by die koningin oor etiket geleer het, was Heaven se oordeel.
Meer subtiel was ’n verslaggewer in die The Guardian, wat neerbuigend geskryf het oor Zuma se “suitable attire” toe hy deur Koningin Elizabeth verwelkom is.
Die blote feit dat die verslaggewer dit vermeldenswaardig gevind het, spreek boekdele.
Al die persberigte het gehamer op die president se sekslewe en die korrupsieklagte teen hom.
Klem is gelê op die verskil tussen hom en oudpres. Nelson Mandela. Sommige het gekla oor die informele kleredrag van die amptenare in sy geselskap en die luide manier waarop hulle oor hul selfone praat.
Selfs in die parlement is onder luide gelag die draak gesteek met Zuma se besoek. Waar hy sy opwagting in die openbaar gemaak het, het die Britse publiek hom grotendeels geïgnoreer.
Om alles te kroon wou premier Gordon Brown niks weet van Zuma se pleidooi dat die sanksies teen Zimbabwe opgehef moet word nie.
Daarmee is die belangrikste oogmerk van die gesprek met Brown nie bereik nie.
’n Mens kan sekerlik baie negatiewe dinge oor Zuma sê.
Maar die dag toe onbeskoftheid en beledigende gedrag uitgedeel is, het die Britte gewis heel voor in die ry ingedruk.