Hillary se laaste Afrika-ampsbesoek
2012-08-04 23:43
Hillary Clinton, Amerikaanse minister van buitelandse sake, gaan in
Januarie ná die presidensiële verkiesing uit die politiek tree, het
Amerikaanse amptenare bevestig.
Dit maak Clinton se besoek aan Suid-Afrika vandeesweek haar laaste as Amerikaanse regeringsamptenaar.
Clinton is op toer deur Afrika-lande en dié lys groei steeds.
Sy
het reeds tyd in Senegal, Somalië, Suid-Soedan, Uganda, Kenia en Malawi
deurgebring en die begrafnis van pres. John Atta Mills van Ghana
bygewoon.
Sy sal moontlik ook ’n draai maak in Abuja, Nigerië, om
pres. Goodluck Jonathan te besoek, wat verlede week in Jamaika was toe
sy in Wes-Afrika was.
Dit is onseker of sy pres. Jacob Zuma in Suid-Afrika sal sien, hoewel haar amptenare glo probeer om so ’n vergadering te belê.
In Suid-Afrika sal Clinton wel met haar ampsgenoot, Maite Nkoana-Mashabane, vergader vir hul jaarlikse strategiese dialoog.
Dit
is ’n diplomatieke struktuur waarin die buitelandse ministers interne
en internasionale kwessies bespreek waarby albei lande betrokke is. Die
opkomende strategiese dialoog sal nie net gemoedelik wees nie.
Kwelpunte tussen Suid-Afrika en Amerika vorm deel van die agenda, waarby
Iran en Sirië ingesluit is.
Suid-Afrika het Iran se olie-uitvoer afgesny nadat Amerika gedreig
het om Suid-Afrika se toegang tot die Amerikaanse geldelike stelsel te
blokkeer. Maar Suid-Afrikaanse amptenare het dit duidelik gemaak hulle
is nie gelukkig daaroor nie.
Ander kwessies wat spanning veroorsaak is Sirië, waar Amerikaners
wil hê president Bashir al-Assad moet uit die kussings gelig word terwyl
die Suid-Afrikaners minder gemaklik voel met 'n veldtog wat
regime-verandering sal teweegbring.
Daar
word bespiegel dat Clinton se lang Afrika-toer te doen het met Amerika
se vrees oor China se toenemende houvas op Afrika ten koste van Amerika.
Amerikaanse amptenare verwerp dit egter.
“Daar is
genoeg beleggings om mee voort te gaan. Ons ding nie mee met China nie.
Ons verwelkom China se verbintenis met Afrika. Daar is genoeg ruimte vir
albei van ons.”
Clinton bring 15 sake-afgevaardigdes saam om
geleenthede in Suid-Afrika te verken. Amptenare sê omdat Suid-Afrika
hoofberigte in Amerika haal oor stakings en sprake van nasionalisering,
is dit belangrik dat sakelui sélf sien hoe toestande in Suid-Afrika is.