Jaar later en sy blom behoorlik
2012-04-29 00:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Christine van der Westhuizen
Vandag is dit presies ’n jaar sedert William en Catherine, die hertog en hertogin van Cambridge, getroud is.
Terwyl Wills en Kate, soos die Britse volk hulle noem, glo beplan om die dag ontspanne saam met vriende deur te bring, is daar een vrou in Brittanje wat sekerlik ’n groot sug van verligting slaak: koningin Elizabeth II.
Kate het in ’n jaar nie een voetjie in haar spykerhakkies verkeerd gesit nie.
As die aanloop tot die koninklike troue ’n jaar gelede aan ’n sirkus herinner het, was die tyd daarna soos ’n stemmige high tea, waar die gasvrou haar rol meesterlik vertolk, niemand die snoephappies kan kritiseer nie en die vertrek die regte temperatuur is.
Want Kate se nuwe rol pas haar soos ’n handskoen. Sy kom altyd glimlaggend, ontspanne en vol selfvertroue voor, asof sy nie besef sy is onder ’n mediamikroskoop waar elke los garing op haar rok en ’n haar wat nie op sy plek is nie voorbladopskrifte en -foto’s waarborg.
Sy gedra haarself so goed dat sy die gulsige poniepers niks gee om oor te skinder nie, behalwe toe sy met ’n klein gebaar ’n happie grondboontjiesmeer geweier het en dit tot weke lange se ooievaar-bespiegelinge gelei het. In haar eerste huweliksjaar het sy prinse en presidente ontmoet, tallose openbare verskynings gemaak, haar man ondersteun terwyl hy in die Falkland-eilande rondgevlieg het en sy, siestog, Valentynsdag alleen moes deurbring.
Daarby het sy haar skoonpa, prins Charles, vergesel, saam met die koningin tee gedrink, haar eerste toesprake gehou, tientalle kinders omhels, siekes vertroos en boonop ’n toonaangewende modeleier geword. Dít alles sonder dat ’n enkele sentimeter van haar onderrok uithang. Boonop lyk dit asof sy dit gate uit geniet.
In haar eerste jaar het sy haar dalk op die rooi tapyt bewys, maar in haar tweede jaar gaan dit moeiliker wees.
Die druk is op haar om haar in die kraamsaal te bewys met ’n koninklike opvolger...