Kersfees moebarak in Kaboel
2012-12-22 23:58
Leandi Claasen in Kaapstad
Kersfees in Afganistan sal beslis ordentlik deur hulle gevier word, sê Suid-Afrikaners wat in Kaboel werk.
Sewe Suid-Afrikaners is in September in ’n selfmoordbomaanval in die Afgaanse hoofstad dood.
Drie vlieëniers en vier vliegtuigtegnici het gesterf.
Dié aanval het by baie Suid-Afrikaners ’n verwronge beeld van die land geskep, sê Gerhard Marais, stigter van die Facebook-groep South Africans Working in Afghanistan.
Marais sê Suid-Afrikaners is gelukkig in Kaboel ondanks die omstandighede.
Piet Botha (42, skuilnaam), ’n Suid-Afrikaanse vlieënier wat die afgelope 17 jaar daar werk, beskryf sy Kers-ervaring in Kaboel: “Jy gaan nie Kersliedere hoor wat in winkelsentrums blêr nie, maar alle Suid-Afrikaners hier maak dit spesiaal.”
Botha sê hulle is versigtig hoe en waar hulle Kersfees vier, “maar ons doen altyd die beste met wat ons het”.
Botha sê daar is ’n groot groep Suid-Afrikaners in Kaboel en sê hulle ondersteun mekaar.
Baie werk in die boubedryf, in persoonlike beveiliging, as medici, vlieëniers en in heropbouprogramme.
“Ons is soos een groot familie. Maak nie saak vir watter maatskappy jy werk nie.”
Wat is op die spyskaart?
“Wat jy in die hande kan kry. Daar is winkels wat spesiaal kalkoen invoer vir Kersfees. Maar dis nogal duur, tussen R300 en R400.”
Van bier wil hy nie eens praat nie. “Dit moet jy op die swartmark koop, maar ons bly weg. As hulle jou vang, is dit groot moeilikheid.”
Vir Gabriel Kroes (49), ’n personeelkonsultant in Kaboel, was die grootste geskenk vir Kersfees vanjaar ’n besoek van sy dogter, Helen (19).
Anke Bekker (30), wat by ’n groot maatskappy in Kaboel werk, sê sy sien uit na ’n Kersete met sowat 300 mede-ekspats.