Lewinsky sê sy was ’n poeding
2012-09-22 23:17
Christine van der Westhuizen
Blykbaar is daar nog baie geld te make uit die 14 jaar oue Monica Lewinsky-skandaal.
So glo ’n uitgewer wat bereid is om $12 miljoen (meer as R96 miljoen) op te dok vir ’n boek wat glo alles wat nog nie gesê is nie in die fynste besonderhede beskryf. Deur Lewinsky self.
Lewinsky word volgende jaar 40, het nog nie ’n ring aan die vinger nie, moet haar pennies tel en koester glo steeds wraakgedagtes jeens oudpres. Bill Clinton van die VSA wat hul verhouding voor volk en vaderland as “onvanpas” afgemaak het. Die affair met die wulpse, bloedjong Monica het Clinton in 1998 amper sy presidentskap gekos. Sy was maar ’n 21-jarige Withuis-intern toe dit begin het en 23 toe dit op die lappe gekom het.
Deesdae is Clinton (66) ’n elder statesman. Hy is ’n gewilde spreker, ’n wêreld-filantroop met wye aanhang as ’n “politieke rockster”, soos wat The Examiner hom beskryf.
Maar Lewinsky se wraakgedagtes op papier kan dalk net sy skoongewaste beeld bemodder. Die boek het glo nuwe eksplisiete inligting oor hul gekafoefel en sy onversadigbare seksdrang en -fantasieë.
Dié onthullings kan straks boonop sy huwelik finaal laat vou en vroulief Hillary se politieke drome in die wiele ry.
Volgens die Amerikaanse poniekoerant The National Enquirer het Lewinsky in Mei ’n “hoogs geheime” boek aan uitgewers in Manhattan aangebied, maar is aangesê om dit “sappiger” te skryf.
Nou bevat dit glo hartstogtelike liefdesbriewe wat sy aan hom geskryf, maar nooit gestuur het nie.
Sedert die Withuis se Welkom-matjie onder Lewinsky se voete uitgeruk is, het sy haarself leer brei, handsakke ontwerp en as ’n TV-aanbieder en -korrespondent gewerk.
Sewe jaar gelede het sy by die London School of Economics ingeskryf en ’n meestersgraad verwerf.
Sy sukkel egter om werk te kry en met 40 verjaardagkersies wat op haar wag, het sy haar gifpennetjie skerpgemaak.
Nadat Clinton se outobiografie, My Life, in 2004 verskyn het, het Lewinsky in ’n onderhoud met die Britse poniekoerant Daily Mail gesê: “Hy kon sake reggestel het, maar hy het nie. Hy het gelieg. Ek het verwag hy sou die valse verklarings wat hy destyds afgelê het om die presidentskap te beskerm, regstel, maar pleks daarvan het hy gemaak asof ek dit vir hom uitgestal het en hy net kon gevat het. Ek was die buffet en hy kon die poeding nie weerstaan nie.”