‘Madonna moet liefs aftree’
2012-08-12 00:16
Saamgestel deur Gavin Prins
Die sangeres Madonna (53) het ’n moeilike week agter die rug.
Eers is sy deur ’n medekunstenaar beledig en toe deur ’n Russiese politikus ’n paar lelike woorde toegesnou.
Die Britse sanger Elton John het Madonna in ’n Australiese TV-onderhoud ’n “f****n kermis-stripper” genoem.
Die onderhoud was veronderstel om oor John se beplande wêreldtoer te handel, maar sy jare lange renons in Madonna het by hom opgestu.
“Sy moet aftree. Haar loopbaan is verby,” het hy uitgebars.
Die twee was eens op ’n tyd op goeie voet.
Die vete het begin toe John in 2002 Madonna se liedjie wat sy vir die James Bond-fliek Die Another Day gesing het, beledig het. Daarna het hy haar daarvan beskuldig dat sy nie ’n toekenning vir beste konsertoptrede verdien nie, “want sy sing nie, sy beweeg net haar lippe”.
Madonna het nie op die aanvalle gereageer nie.
Die jongste voorval is veroorsaak deur Madonna se kritiek op Lady Gaga (26), ’n boesemvriendin van John.
Madonna het Gaga by geleentheid daarvan beskuldig dat sy háár op die verhoog probeer naboots.
Sy het Gaga ook van plagiaat beskuldig omdat Gaga se treffer Born this Way baie dieselfde sou wees as Express Yourself, Madonna se 1989-liedjie.
Net ’n dag of wat nadat John onder Madonna ingeklim het, is sy ’n “eks-prostituut” genoem deur die Russiese adjunkpremier, Dmitri Rogozin.
Madonna het tydens ’n konsert in Rusland dié land se hardvogtige beleid oor gay-regte gekritiseer.
En op die verhoog in Moskou het sy baie duidelik haar steun laat blyk vir die vroue-punkgroep Pussy Riot wat in hegtenis geneem en tans verhoofafwagtend is.
Staatsaanklaers het Dinsdag gevra dat drie van die groep se lede, Maria Aljochina, Nadezjda Tolokonnikowa en Jekaterina Samoetsewich, drie jaar tronkstraf opgelê word omdat hulle lede van die Russies-Ortodokse kerk beledig het en ’n gevaar vir die samelewing inhou.
Die drie word aangekla van boewery aangevuur deur godsdienstige haat nadat hulle in Februarie ’n “punkgebed” teen pres. Wladimir Poetin in ’n Moskouse katedraal gesing het.
Madonna het tydens die vertoning gesê: “Ek weet elke storie het baie kante en ek wil nie disrespekvol wees teenoor die kerk of regering nie, maar ek dink die meisies... het iets dappers gedoen en hulle het die prys betaal vir dié daad en ek bid vir hul vryheid.”
Rogozin het toe op Twitter geskryf: “’n Voormalige hoer wil vir almal ’n preek oor moraliteit afsteek wanneer sy ouer word. Veral tydens toere en optredes.”
Madonna het nog nie op John of Rogozin se stellings gereageer nie.