Matt met ’n tamaai geweer in nuwe Blomkamp-fliek
2012-07-07 22:07
Die eerste amptelike foto uit Elysium, die nuwe wetenskapfiksie-fliek van die District 9-regisseur, Neill Blomkamp, het pas die lig gesien.
Dit is op The Playlist, ’n aanlyn-rolprentteater-gids, gepubliseer.
Die akteur Matt Damon is te sien in ’n militêre uitrusting met ’n groot geweer op die skouer.
Volgens www.imdb. speel die fliek af in 2159. Die titel verwys na die luukse ruimtestasie waar net die rykes kan woon, terwyl die gepeupel op ’n verwoeste aarde moet oorleef.
Elysium is Blomkamp se eerste fliek sedert District 9 in 2009.
Volgens Channel 24 het Elysium ’n begroting van $100 miljoen (sowat R825 miljoen) en is dit onder meer in Mexiko en Kanada verfilm.
Volgens Sony Pictures sal Elysium op 13 Julie op die jaarlikse Comic-Con-saamtrek in San Diego vertoon word.
Die Suid-Afrikaanse akteur Sharlto Copley, wat die hoofrol in District 9 vertolk het, verskyn ook in Elysium saam met onder andere Jodie Foster. Die fliek word op 1 Maart volgende jaar uitgereik.