Meer van SA woon nou in Engeland
2012-12-22 23:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
AJ Opperman in Johannesburg
Sowat 60 000 méér Suid-Afrikaners woon deesdae permanent in Engeland as tien jaar gelede.
Dit is volgens die jongste Britse sensus.
Suid-Afrikaners maak sowat 3% uit van al die immigrante in Engeland – die sewende grootste immigrante-groep.
Benewens die sowat 216 000 Suid-Afrikaners wat Brittanje hul permanente tuiste gemaak het, woon daar waarskynlik op enige gegewe tyd ook duisende ander Suid-Afrikaners tydelik daar. Om presies te bepaal hoeveel is feitlik onmoontlik.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, word daar nie rekord gehou van die redes waarom Suid-Afrikaners tydelik oorsee gaan nie – of dit dus vir vakansie, studies of werk is nie.
Boonop, sê Bailey, wat ook betrokke is by die Kom Huis Toe-veldtog, het baie Suid-Afrikaners twee paspoorte.
Om vir Britse burgerskap en ’n paspoort te kwalifiseer moet jy net bewys ’n ouer of grootouer was ’n Britse burger. “Baie Suid-Afrikaners in Brittanje is dus nóg op Suid-Afrikaanse rekords emigrante nóg op Britse rekords immigrante.”
Emigrante maak ’n groot deel uit van internasionale vervoermaatskappye se kliëntetal uit.
Volgens Charles Luyckx, woordvoerder van die Elliott-vervoermaatskappy, behartig hulle sowat 400 verskepings per jaar na Engeland. Dis sowat 25% van hul verskepings vir mense wat na die buiteland verhuis.
“Die syfer het die afgelope tien jaar baie konstant gebly. Dit is egter minder as die vorige tien jaar (1991?–?2001) toe ons tussen 500 en 600 verskepings per jaar gedoen het.”
Marinda Redbath van Stuttaford Van Lines sê in 2012 het hulle 250 kliënte gehad wat na Engeland geëmigreer het vergeleke met 166 kliënte in 2011.
“Hierdie kliënte se gesinne moet nog bygereken word. Dit is dus ’n groot klomp mense wat jaarliks soontoe verhuis.”