Minder mense ‘bid’ oor B’Berry
2012-01-28 23:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Daar was ’n tyd, glad nie lank gelede nie, toe die naam BlackBerry sinoniem was met die beste en gevorderdste telefoontegnologie op aarde.
Hoewel dit reeds baie jare vóór die BlackBerry se koms moontlik was om boodskappe en e-pos op jou selfoon te lees, was die BlackBerry die eerste foon wat jou kantoor werklik “drabaar” gemaak het. ’n Kombinasie van ’n slim bedryfstelsel (die “brein” wat ’n selfoon laat werk), ’n redelik groot skerm en ’n volledige Qwerty-toetsbord het baie sakelui oortuig dat die toekoms uiteindelik aangebreek het.
Dit het die manier waarop ons ons selfone gebruik, radikaal verander. Sosioloë het begin praat van die BlackBerry Prayer – die gewoonte van mense om tydens ’n vervelige vergadering hul kop te laat sak en so ongemerk moontlik hul e-pos op hul selfoon te begin lees en sommer ook te beantwoord.
Maar deesdae lyk dit of die enigste mense wat nog oor hul BlackBerrys “bid” die maatskappy se aandeelhouers is.
Eens was dit een van Kanada se sterkste maatskappye met uitgereikte aandele van $70 miljard. Deesdae is RIM ’n “skamele” $8 miljard werd. Volgens sommige syfers het BlackBerry se aandeel in die Amerikaanse slimfoonmark gedaal van 44% in 2009 tot net 10% verlede jaar.
Daarteenoor het Apple die afgelope week aangekondig dat sy kwartaallikse wins meer as verdubbel het met ’n netto inkomste van $13,1 miljard (R104,2 miljard) vir die laaste drie maande van verlede jaar.
Die maatskappy het in dié tyd 37?miljoen iPhones verkoop ná die bekendstelling van sy nuwe model, die 4S, in Oktober, ’n week ná die dood van die maatskappy se grootbaas, Steve Jobs.
Boonop gaan Android, die bedryfstelsel wat deur Google ontwikkel is, ook van krag tot krag met veral die Koreaanse Samsung wat die iPhone die stryd aansê met die Galaxy SII, ’n modieuse tasskermtelefoon wat aansienlik minder as die Apple-produk kos.
Geen wonder nie dat RIM se twee topbestuurders, die stigter, Mike Lazaridis, en Jim Balsillie (wat vreemd genoeg albei die titel van uitvoerende hoof gehad het) verlede naweek onder druk van beleggers geswig en hul kantore ontruim het.
In hul plek is Thorsten Heins aangestel. Hy is al ’n paar jaar aan RIM verbonde en het voorheen ’n senior pos by Siemens beklee.
Lazarides, die man wat RIM meer as 20?jaar gelede begin het, sal hoof word van ’n nuwe “innovasie-komitee” in die maatskappy wat die markaandeel van Apple se iPhone en die nuwe generasie Android-fone gaan probeer terugwen.
Ná ’n miserabele 2011 het Heins, die nuwe uitvoerende hoof, baie om te doen.
Miljoene gebruikers se e-pos en boodskapdiens was byvoorbeeld dae lank opgeskort weens ’n rekenaarprobleem en die bekendstelling van die maatskappy se PlayBook, ’n tabletrekenaar soortgelyk aan die iPad, was ’n groot mislukking.
Die BlackBerry het oorspronklik naam gemaak as ’n foon vir sakelui.
Ondanks die BlackBerry se tradisionele beeld as ’n taamlike saai foon vir bankiers en ou ooms (soos in die grafika hierbo), verkoop die BlackBerry deesdae baie meer onder jongmense as in die sakegemeenskap.
BlackBerry se kitsboodskapdiens, wat gratis is tussen BlackBerry-gebruikers, maak die foon besonder gewild onder jongmense.
Dit is die gewildste slimfoon in Suid-Afrika met ’n reuse-markaandeel in ander opkomende markte soos Maleisië en Indonesië.
Voorspellings van BlackBerry se vroeë dood is dus waarskynlik voortydig.
Soos een tegno-liefhebber en BlackBerry-aanhanger dit die afgelope week gestel het: “Solank data-koste in Suid-Afrika buitensporig duur bly, sal ’n foon soos die BlackBerry wat gratis data bied, altyd gewild bly.”
Wie weet, miskien sal BlackBerry uiteindelik soos die folk-musikant Rodriguez wees: Met Suid-Afrika die enigste plek in die wêreld waar dié twee nog ’n lewendige aanhang het.
* Met bykomende verslaggewing deur Reuters.