Monster Ma
2012-11-17 23:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Christine van der Westhuizen
Madonna noem haar ’n kras nabootser.
Kerklikes noem haar satanies. (En sy help haarself nie juis wanneer sy uitsprake maak soos: “Ek wil nie jou geld hê nie. Ek wil jou siel hê.”)
Vir ’n paar miljoen aanhangers wêreldwyd en die derduisende Little Monsters wat haar Suid-Afrikaanse konserte later vandeesmaand gaan bywoon, is sy Mother Monster.
Sy is hul heldin, hul bevryder. Die freak wat sê dit is aanvaarbaar om ’n freak te wees. “Heg net waarde aan die mening van die mense vir wie jy respek het. Ignoreer die res,” het sy aan ’n tydskrif gesê.
Sy beskryf haarself as ’n eenkantmens: “As al die popsterre saam by ’n hoërskoolpartytjie sou wees, sou ek nie aan die koel kinders se tafel gesit het nie ...” Want in elk geval: “Popsterre moenie eet nie.”
Lady Gaga is in 1986 gebore as Stefani Joanne Angelina Germanotta, maar in haar eie kop is sy Lady Gaga. “Moet my nooit weer Stefani noem nie.”
Lady Gaga is ’n naam wat deur ’n sameloop van omstandighede (onder meer ’n verwysing na Queen se liedjie Radio Gaga en ’n selfoon se outomatiese korreksiefunksie) ontstaan het.
Of dis deur bemarkers uitgedink, afhangend van watter legende jy wil glo. Sy het haarself leer klavier speel toe sy vier jaar oud was. Sy het in haar eerste jaar op universiteit opgeskop om haar op haar musiek toe te spits.
Op haar 20ste verjaardag het sy ’n platekontrak by Def Jam gekry.
Hoe? “Ek is ’n meedoënlose teef.”
Terwyl sy vir ander kunstenaars liedjies geskryf het en aan haar eie musiek gewerk het, het Def Jam vertroue in haar bemarkbaarheid verloor en haar kontrak beëindig.
Gaga was platgeslaan, maar het begin skaaf aan haar openbare persona, haar kuns, haar musiek. Sy het opgetree waar sy kon: klubs, musiekfeeste ... en die oog getrek van ’n verteenwoordiger van Interscope Records. Die eerste treffer by Interscope was Just Dance en die res is geskiedenis.
Sy het ’n kêrel, Taylor Kinney.
Waarna soek sy in ’n man? “'n Groot penis.” Enigiets anders? “Nee, dis al.”
Vinnige feite
* Sy is Polaroid se kreatiewe direkteur vir spesiale projekte;
* Sy is linkshandig;
* Sy het onlangs ’n versoek van Madonna om saam op te tree van die hand gewys omdat sy glo te besig is;
* Sy het koningin Elizabeth II ontmoet en vir haar gesing;
* Sy is ’n aktivis in die veldtog teen vigs en vir die regte van gays en lesbiërs;
* Haar wêreldrekords sluit in: Die eerste mens met meer as 30 miljoen volgelinge op Twitter; die kunstenaar met die liedjie wat die vinnigste nóg verkoop het – 1,1 miljoen eksemplare van Born this Way is binne vyf dae verkoop; sy besit die duurste ontwerpersrok – sy het onlangs £85 250 (R1,2 miljoen) vir ’n rok van die ontwerper Alexander McQueen betaal op ’n liefdadigheidsveiling.
* Lady Gaga tree op Vrydag 30 November in Johannesburg en Maandag 3 Desember in Kaapstad op.