Mooi, maar nie só mooi!
2012-02-04 22:11
Christine van der Westhuizen
Skoonheidshuise wat hul reeds pragtige advertensiemodelle met allerhande tegnologie-truuks nóg mooier wil maak, kry toenemend die wind van voor.
Die bekende Franse skoonheidshuis L’Oréal is vir die tweede keer binne ses maande deur die Britse advertensie-owerhede op die vingers getik oor misleidende foto’s in sy advertensieveldtogte.
In die jongste voorval spog die aktrise Rachel Weisz (41) met ’n vel wat so glad is soos bababoudjies en in die vorige omstrede advertensie pronk Julia Roberts (44) sonder ’n sweempie van ’n frons of? ’n lagplooi.
Volgens L’Oréal is die bykans waspopvoorkoms danksy sy wonderlike velroom.
Maar die klaagster, me. Jo Swinson van die Britse Campaign for Body Confidence, sê aikona, ’n vrou met meer as 40 somers agter die rug kan onmoontlik so vlekkeloos en plooivry lyk.
Albei advertensies is deur die Britse gesagsvereniging vir reklamestandaarde verbied, en in die jongste voorval is L’Oréal reguit gevra om die digitale manipulasie van foto’s vir advertensies te staak.
Dit kom nadat L’Oréal erken het daar is met Weisz se foto gepeuter.
“Ons laat ons lesers toe om self te besluit,” sê Mariska van Rooyen, die skoonheidsredakteur van die tydskrif Sarie.
“Sarie het baie glansadvertensies en dis wat ons lesers verwag. Ons glo dit sal eerder inspireer as intimideer, want ons lesers is gemaklik in hul vel.
“Ek glo nie ons lesers verwag om soos Rachel Weisz te lyk wanneer hulle die room in die advertensie gebruik nie, maar hulle verwag wel ’n verbetering in hul eie vel, soos die advertensie beloof,” sê Van Rooyen.
“Daar is ’n fyn lyn wanneer dit kom by die digitale verandering van foto’s,” sê die Suid-Afrikaanse fotograaf Peter Morey.
“Dit tas jou reputasie as professionele fotograaf aan as jy ’n foto te veel verander, maar aan die ander kant kan ’n foto dikwels beter vertoon wanneer dit ’n bietjie gedokter is.”
Baie van Morey se kliënte vra dat hul foto’s digitaal verander word.
“Op ’n grappige manier sal hulle sê: ‘Jy moet my maar ’n bietjie photoshop.’ Die waarheid is dat niemand sleg wil lyk op ’n foto nie.
“Daarom maak ons die oë blinker en die tande witter, die plooie minder en selfs die boobs ’n bietjie groter as jy vra.
“Die vraag is: Wie is die werklike jy? Die een wat nou pas wakker geword het, of die een wat vanaand uitgaan?”
Morey meen kosfotografie is ’n groter sondaar as skoonheidsfotografie. “Lyk die hamburger wat jy bestel ooit soos die een op die spyskaart?” wil hy weet.
In ’n verklaring sê L’Oréal ongeag of foto’s digitaal verander word, sy velroomproduk werk steeds soos wat hy aanvoer.
In ’n aanlyn-meningspeiling is 80% van mense ten gunste daarvan dat die advertensies onttrek is, terwyl die ander 20% meen die kritici oorreageer.
“Elke dag pleister vroue hul gesigte om anders te lyk, en dan kritiseer hulle L’Oréal se vals foto’s? Is dit nie presies wat julle vroue dan doen nie?” vra ene Martin op die Daily Mail se webwerf.