Noorse polisie-reaksie 'was flink'
2011-12-18 05:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
OSLO
Die Noorse polisie het so vinnig moontlik gereageer nadat
’n anti-Islamitiese aanvaller in Julie ’n bom hier laat ontplof en
tientalle tieners by ’n somerkamp doodgeskiet het.
Só sê die hoof van ’n interne polisiekommissie wat die polisie se reaksietyd ondersoek.
Die naasbestaandes van die slagoffers kritiseer die polisie, omdat
hulle destyds glo nie vinnig genoeg gereageer het op berigte dat Anders
Behring Breivik by ’n jeugkamp van die Arbeidersparty losgebrand het
nie. Altesaam 69 mense is doodgeskiet.
’n Ruk vroeër het hy ’n bom in die middestad van Oslo laat ontplof, wat agt mense se lewe geëis het.
Die polisie het sowat ’n uur geneem om van Oslo by die Utøya-eiland, ’n afstand van 40km, uit te kom.
Mnr. Olav Soenderland, hoof van die kommissie wat deur die polisie
aangestel is, het op ’n nuuskonferensie gesê die kritiek is onredelik.
“Gedurende ’n uiters intense voorval is die tyd vir beplanning en nadenke beperk.
“Dit sal onredelik wees om die wysheid wat nawete bring te gebruik om die situasie te evalueer.”
Soenderland het te kenne gegee dat nooddienswerkers kosbare minute
gemors het deur ’n rubberboot wat na die eiland onderweg was per ongeluk
te laat sink. “Hulle wou so gou moontlik by Utøya uitkom.”
Psigiaters wat deur die hof aangestel is, het bevind Breivik is kranksinnig en mag dalk tronkstraf vryspring.
’n Polisieverslag, ’n parlementêre komitee en ’n onafhanklike
kommissie wat deur die regering aangestel is, ondersoek ook die polisie
se reaksietyd.
– Reuters