Olimpiese Openingseremonie: ‘Nou het ons alles gesien’

2012-07-28 23:03

Die Olimpiese ringe word op ’n skouspelagtige manier aangeskakel. | Foto: Getty

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Koningin Elizabeth II in haar toneelspel-debuut, nogal saam met James Bond.

Mr. Bean as lid van die Londense simfonieorkes én as ’n marathon-atleet.

Wat nog te sê van die 70 skape, 3 skaaphonde, 12 perde, 3 koeie, 10 hoenders en 10 ganse. Asook Paul McCartney. En moenie vergeet van die 600 dansende verpleegsters of die 30 vlieënde Mary Poppinse nie.

Nou het ons inderdaad alles gesien, het Brittanje se The Guardian gister tereg opgemerk ná Vrydagaand se Olimpiese openingseremonie wat die wêreld by tye sprakeloos gelaat het.

Die seremonie het wye lof ingeoes met woorde soos “avontuurlustig”, “kleurvol”, “speels”, “meesterlik”, “eksentriek” en “erg Brits” onder die algemeenste lofredes.

Reeds voor die einde van die seremonie was daar oproepe op Twitter dat die regisseur Danny Boyle tot ridder geslaan moet word nadat hy koningin Elizabeth II (en haar geliefde corgi’s) oorreed het om in ’n videogreep saam met die Bond-akteur Daniel Craig te verskyn – en dit in die gange van die Buckingham-paleis.

Die nuutste Bond-meisie, op die rype ouderdom van 86?

Dít was hoe Twitter Vrydagaand goediglik gespot het.

Maar die deel van die skouspel wat die grootste reaksie ontlok het, was Rowan Atkinson se vyf minute as Mr. Bean – eers verveeld agter ’n klawerbord waarop hy ’n enkele noot moes speel en daarna as ’n aggressiewe drawwer op ’n Britse strand. Dit alles op die maat van Chariots of Fire en die gelag van die skare in die Olimpiese stadion.

Dít was een van die redes waarom The New York Times die seremonie as “ ’n wilde geroesemoes van die konvensionele en die eksentrieke en die soms eenvoudig oordadige” bestempel het.

In Brittanje het die media gejubel oor Boyle en die derduisende vrywilligers wat by die seremonie betrokke was.

“Londen steek die wêreld aan die brand,” het The Independent gesê.

“Aand van betowering,” was die banieropskrif op The Guardian se voorblad en The Times het dit genoem: “Die grootste vertoning.”

Die atlete was net so beïndruk.

“Ek is reeds trots Brits, maar hierdie (seremonie) is eenvoudig asemrowend. Ongelooflik!” het die Britse swemmer Rebecca Adlington gesê.

Oscar Pistorius, wat sy Olimpiese debuut maak, het die aand as “spesiaal” bestempel.

“Daar is soveel energie in Londen,” het hy gesê. “Dit het my nie regtig getref dat ek aan die Olimpiese Spele gaan deelneem nie, tot ek hier aangekom het.”

***

Pieter Malan skryf:

’n Mens kon nie help om Vrydagaand se openingseremonie van die Olimpiese Spele in Londen te vergelyk met dié van Beijing nie.

Wie kan vier jaar gelede se metronomiese massavertoning vergeet met sy duisende gekloonde Chinesies, elkeen se steil swart haartjies presies dieselfde gekap, wat ritmies en in pas op en af spring? Of die hipnotiese gedreun van honderde tromme waarvan die styfgespande varkvelle ritmies flikker om die pikdonker stadion in ’n wonderwêreld te verander?

Ek was destyds in Londen en onthou goed hoe die Britse media na afloop van dié skouspel, met amper ontipiese Britse selfvertwyfeling, begin wonder het of Londen dit sou kon nadoen.

Ek onthou veral die oordeel van een van dié kommentators – as ek reg onthou was dit Quentin Letts van die Daily Mail. Letts is ’n man met ’n amper onvanpaste ouwêreldse geloof in die “Britse manier van doen”.

Hy het destyds die twyfelaars gerusgestel met die woorde: “It will all come together in the end in some chaotic British kind of way.”

Toe die Arctic Monkeys Vrydagaand die ou Beatles-treffer Come Together tydens die openingskouspel aanhef het dit my weer aan Letts se voorspelling van vier jaar gelede laat dink.

Want eksentriek in ’n “distinctly chaotic British kind of way” was die gedoente beslis. ’n Idiosinkratiese verskeidenheidskonsert wat herinner aan ’n “Last Night at the Proms” – behalwe dat dié een op die laaste nippertjie na ’n sportstadion (of was dit ’n weiveld wat diens doen as ’n sportstadion?) verskuif moes word nadat die organiseerders besef het hulle het meer kaartjies verkoop as wat die Royal Albert Hall sitplekke het.

Al wat kortgekom het was die patriotiese Land of Hope and Glory aan die einde.

Nie dat die jingoïstiese sabels tóg geratel is tydens Vrydagaand se tableau nie. Maar kom ons vergewe hulle dit. ’n Olimpiese Spele is die één geleentheid waar dit nog aanvaarbaar is om die nasionalistiese bors uit te stoot. En as jou tegnologiese en kulturele nalatenskap aan die wêreld alles insluit van die stoomtrein tot die internet, van William Shakespeare tot J.K. Rowling en van Edward Elgar tot Eric Clapton, moet dit nogal moeilik wees om te besluit watter spoggerige erfgoed om uit te laat as jy so ’n konsert aanmekaar slaan.

My kritiek ten spyt verkies ek die chaotiese Londense openingseremonie bó enigiets wat die Chinese kon opdis.

Waarom? Omdat ek my veel eerder vereenselwig met ’n stad wat ’n dowe koor uitnooi om in hul pajamas God Save the Queen voor ’n televisiegehoor van miljarde vir hul bejaarde koningin te sing as met ’n kommunistiese regime waar opgekommandeerde kinders perfek gechoreografeerde passies uitvoer. Sou die Chinese toelaat dat hul weergawe van James Bond die draak steek met voorsitter Mao? Of sou hulle Mr. Bean toelaat om ’n uitvoering van een van hul top-simfoniekonserte te verongeluk met sy oneerbiedige studente-grappies?

Nee wat, gee my die Britse manier van doen. Al is dit ’n bietjie chaoties en uiters eksentriek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
14 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Nuutste Nuus-kommentaar

Mauser Boot sê... 30 000 mense het ook net "verdwyn" in Suid-Afrikaanse konsentrasiekampe.. Tog het geen diktator hiervoor ooit een dag in die tronk deurgebring nie. Daar is tot vandag toe nie eens jammer gese nie. Alles is nie altyd soos dit voorkom nie. Lees die storie...

Weer
Lotto
Ksd: 14-23°C Sunny. Mild. Pta: 10-19°C Afternoon clouds. Mild.
Jhb: 8-15°C More sun than clouds. Cool. Bfn: 9-20°C More sun than clouds. Mild.
Dbn: 14-23°C Sunny. Mild. PE: 12-24°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Winchester Mansions

Spend 3 nights at Winchester Mansions from R3 330 per person sharing and pay for 2 nights. Includes accommodation, return flights, car rental and Local Travel Insurance.

Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Drama- & liefdes-DVD’s – 2 vir R99

Moenie ons spesiale aanbiedinge van liefdes- en drama-DVD’s, wat jou ure voor jou skerm vasgenael sal hou, misloop nie. Die aanbod is geldig vir solank daar voorraad is. Koop nou.

Eksklusiewe spesiale aanbod op Wii U

Spaar R999 op hierdie wonderlike aanbod: Wii U 8GB-konsole, basiese pakket, + ’n bykomende stel + Nintendo Land. Nou net R4399.95. Solank daar voorraad is. Koop nou!

Opruimingsuitverkoping! Spaar tot 60%

Besoek ons opruimingsuitverkopingwinkel vir asemrowende aanbiedinge en spaar tot 60%. Solank daar voorraad is. Koop nou!

Witwarm winskopie van die week! Bespaar R2000 op die Samsung Galaxy SIII

Kry die Samsung Galaxy SIII vir slegs R4999.95. Dit is ontwerp vir die mens, maar geïnspireer deur die natuur. Word binne 24 uur versend. Terwyl voorraad hou. Koop nou!

Dan Brown’s se jongste roman, Inferno

In Dan Brown se nuwe roman, Inferno, is die Harvard-simboolkenner Robert Langdon weer aan die stuur van sake. Dit speel af in die hartjie van Europa, waar Langdon ingetrek word in ’n raaisel rondom een van die geskiedenis se oudste en geheimsinnigste literêre meesterwerke. Die langverwagte roman word vandeesweek uitgereik. Plaas jou bestelling nou!

Witwarm Weber-aanbod!

57cm kompakte braaitoestel + GRATIS deksel + GRATIS visbraaier vir R1299.95. Solank voorraad beskikbaar is. Stel nou ondersoek in.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

There are new stories on the homepage. Click here to see them.