Olimpiese Openingseremonie: ‘Nou het ons alles gesien’
2012-07-28 23:03
Koningin Elizabeth II in haar toneelspel-debuut, nogal saam met James Bond.
Mr. Bean as lid van die Londense simfonieorkes én as ’n marathon-atleet.
Wat nog te sê van die 70 skape, 3 skaaphonde, 12 perde, 3 koeie, 10 hoenders en 10 ganse. Asook Paul McCartney. En moenie vergeet van die 600 dansende verpleegsters of die 30 vlieënde Mary Poppinse nie.
Nou het ons inderdaad alles gesien, het Brittanje se The Guardian gister tereg opgemerk ná Vrydagaand se Olimpiese openingseremonie wat die wêreld by tye sprakeloos gelaat het.
Die seremonie het wye lof ingeoes met woorde soos “avontuurlustig”, “kleurvol”, “speels”, “meesterlik”, “eksentriek” en “erg Brits” onder die algemeenste lofredes.
Reeds voor die einde van die seremonie was daar oproepe op Twitter dat die regisseur Danny Boyle tot ridder geslaan moet word nadat hy koningin Elizabeth II (en haar geliefde corgi’s) oorreed het om in ’n videogreep saam met die Bond-akteur Daniel Craig te verskyn – en dit in die gange van die Buckingham-paleis.
Die nuutste Bond-meisie, op die rype ouderdom van 86?
Dít was hoe Twitter Vrydagaand goediglik gespot het.
Maar die deel van die skouspel wat die grootste reaksie ontlok het, was Rowan Atkinson se vyf minute as Mr. Bean – eers verveeld agter ’n klawerbord waarop hy ’n enkele noot moes speel en daarna as ’n aggressiewe drawwer op ’n Britse strand. Dit alles op die maat van Chariots of Fire en die gelag van die skare in die Olimpiese stadion.
Dít was een van die redes waarom The New York Times die seremonie as “ ’n wilde geroesemoes van die konvensionele en die eksentrieke en die soms eenvoudig oordadige” bestempel het.
In Brittanje het die media gejubel oor Boyle en die derduisende vrywilligers wat by die seremonie betrokke was.
“Londen steek die wêreld aan die brand,” het The Independent gesê.
“Aand van betowering,” was die banieropskrif op The Guardian se voorblad en The Times het dit genoem: “Die grootste vertoning.”
Die atlete was net so beïndruk.
“Ek is reeds trots Brits, maar hierdie (seremonie) is eenvoudig asemrowend. Ongelooflik!” het die Britse swemmer Rebecca Adlington gesê.
Oscar Pistorius, wat sy Olimpiese debuut maak, het die aand as “spesiaal” bestempel.
“Daar is soveel energie in Londen,” het hy gesê. “Dit het my nie regtig getref dat ek aan die Olimpiese Spele gaan deelneem nie, tot ek hier aangekom het.”
***
Pieter Malan skryf:
’n Mens kon nie help om Vrydagaand se openingseremonie van die
Olimpiese Spele in Londen te vergelyk met dié van Beijing nie.
Wie kan vier jaar gelede se metronomiese massavertoning vergeet met
sy duisende gekloonde Chinesies, elkeen se steil swart haartjies presies
dieselfde gekap, wat ritmies en in pas op en af spring? Of die hipnotiese
gedreun van honderde tromme waarvan die styfgespande varkvelle ritmies flikker
om die pikdonker stadion in ’n wonderwêreld te verander?
Ek was destyds in Londen en onthou goed hoe die Britse media na
afloop van dié skouspel, met amper ontipiese Britse selfvertwyfeling, begin
wonder het of Londen dit sou kon nadoen.
Ek onthou veral die oordeel van een van dié kommentators – as ek
reg onthou was dit Quentin Letts van die Daily Mail. Letts is ’n
man met ’n amper onvanpaste ouwêreldse geloof in die “Britse manier van doen”.
Hy het destyds die twyfelaars gerusgestel met die woorde: “It will
all come together in the end in some chaotic British kind of way.”
Toe die Arctic Monkeys Vrydagaand die ou Beatles-treffer Come Together tydens die openingskouspel
aanhef het dit my weer aan Letts se voorspelling van vier jaar gelede laat
dink.
Want eksentriek in ’n “distinctly chaotic British kind of way” was
die gedoente beslis. ’n Idiosinkratiese verskeidenheidskonsert wat herinner aan
’n “Last Night at the Proms” – behalwe dat dié een op die laaste nippertjie na
’n sportstadion (of was dit ’n weiveld wat diens doen as ’n sportstadion?)
verskuif moes word nadat die organiseerders besef het hulle het meer kaartjies
verkoop as wat die Royal Albert Hall sitplekke het.
Al wat kortgekom het was die patriotiese Land of Hope and Glory aan die einde.
Nie dat die jingoïstiese sabels tóg geratel is tydens Vrydagaand se
tableau nie. Maar kom ons vergewe hulle dit. ’n Olimpiese Spele is die één
geleentheid waar dit nog aanvaarbaar is om die nasionalistiese bors uit te
stoot. En as jou tegnologiese en kulturele nalatenskap aan die wêreld alles
insluit van die stoomtrein tot die internet, van William Shakespeare tot J.K.
Rowling en van Edward Elgar tot Eric Clapton, moet dit nogal moeilik wees om te
besluit watter spoggerige erfgoed om uit te laat as jy so ’n konsert aanmekaar
slaan.
My kritiek ten spyt verkies ek die chaotiese Londense
openingseremonie bó enigiets wat die Chinese kon opdis.
Waarom? Omdat ek my veel eerder vereenselwig met ’n stad wat ’n
dowe koor uitnooi om in hul pajamas God
Save the Queen voor ’n televisiegehoor van miljarde vir hul bejaarde
koningin te sing as met ’n kommunistiese regime waar opgekommandeerde kinders
perfek gechoreografeerde passies uitvoer. Sou die Chinese toelaat dat hul
weergawe van James Bond die draak steek met voorsitter Mao? Of sou hulle Mr.
Bean toelaat om ’n uitvoering van een van hul top-simfoniekonserte te verongeluk
met sy oneerbiedige studente-grappies?
Nee wat, gee my die Britse manier van doen. Al is dit ’n bietjie
chaoties en uiters eksentriek.