Pil bekamp Alzheimers en ander breinsiektes
2012-07-28 23:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Christine van der Westhuizen
Verskeie breinkwale, waaronder Alzheimer- en Parkinson-siektes, veelvuldige sklerose, motorneuronsiekte, beroerte en komplikasies weens traumatiese breinbeserings kan in die toekoms dalk met die sluk van ’n pilletjie behandel word.
Wetenskaplikes van die Northwestern-universiteit in Chicago het ’n nuwe soort medisyne suksesvol op laboratoriummuise getoets en gepatenteer.
Die uitslag is in die jongste Journal of Neuroscience bekend gemaak.
Die medisyne, bekend as MW-151, voorkom die skadelike uitwerking van inflammasie in die brein wat die “bedrading” of sinapse van die brein onderbreek en senuweeselle laat afsterf.
Muise wat geneties aangepas is om Alzheimer-siekte te ontwikkel is van ses maande oud drie keer ’n week die medisyne toegedien. Teen 11 maande oud was daar geen teken van Alzheimer-siekte by die muise nie en het hul sinapse normaal gewerk.
MW-151 sal pasiënte teen geheueverlies beskerm, veral as dit toegedien word voordat geheueverandering in ’n gevorderde stadium is.
Omdat skadelike inflammasie ook ’n rol in ander neuro-degeneratiewe kwale speel, kan dit dalk vir ’n wye reeks toestande help.
Alzheimer-siekte is die sesde grootste oorsaak van sterftes in die VSA en tot dusver was daar geen voorkomende of genesende behandeling of medisyne nie. Dit vernietig ’n pasiënt se breinfunksie, lei tot geheueverlies en bemoeilik spraak en besluitneming.