R1,7 miljard om sy vrou terug te kry
2013-01-20 01:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Amerikaanse skinderkoerante het die afgelope week wyd berig die gholf-ikoon Tiger Woods (37) is glo bereid om meer as die helfte van sy fortuin weg te teken om sy eksvrou, Elin Nordegren (33), terug te kry.
Die sportman, wat in 2009 as ’n reeks-vroueverneuker ontmasker is, is glo so desperaat om Nordegren terug te wen dat hy haar ’n verdere $200 miljoen (sowat R1,7 miljard) as voorhuwelikse ooreenkoms aangebied het as sy weer met hom sal trou.
Volgens die Amerikaanse skinderblad National Enquirer het Woods op sy een knie gestaan en Nordegren gevra om te trou.
Sy het glo gesê sy sal sy aanbod net oorweeg as hy ’n anti-verneuk-klousule van ’n bykomende $350 miljoen (sowat R3,2 miljard) by die voorhuwelikse kontrak insluit wat hom sal verhinder om haar te verkul.
Daar is berig dat Woods se totale voorgestelde aanbod meer as die helfte van sy geraamde $600 miljoen-fortuin (sowat R5,3 miljard) werd is.
Selfs al het sy finansiële raadgewers hom gewaarsku dat hy gek is om dit te doen, is Woods glo gretig om die voorhuwelikse ooreenkoms te onderteken en ’n troudatum te bepaal, het ’n bron glo aan die tydskrif gesê.
Woods en Nordegren het mekaar in 2001 ontmoet toe sy deur die Sweedse gholfspeler Jesper Parnevik aan hom voorgestel is.
Die paartjie het in November 2003 verloof geraak en is ’n jaar later getroud.
Woods en Nordegren het twee kinders, Samantha (5) en Charlie (3).
Hul huwelik het misluk nadat Nordegren in November 2009 uitgevind het dat Woods haar met verskeie vroue verneuk het.
Toe sy uitvind van sy verneukery het sy hom na bewering aangerand, waarna hy met sy motor teen ’n boom gebots het.
Sy het die aanranding ontken.
Nordegren het uit die huwelik getree met ’n skikking van sowat $110 miljoen (sowat R976 miljoen) toe sy in 2010 van Woods geskei is.