Romney neem voortou
2012-10-11 10:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die gevaarligte het gister in die kamp van pres. Barack Obama geflikker toe ’n gerespekteerde meningspeilingsburo bevind het dat goew. Mitt Romney die president verbygesteek het.
Die Pew-Navorsingsentrum het bevind dat Romney nou met 49% teenoor 45% voorloop onder kiesers wat sê hulle gaan waarskynlik stem. Volgens Pew se peilings kon Obama verlede maand nog op ’n voorsprong van agt persentasiepunte reken.
Dit volg op ’n pap vertoning van die president in die eerste televisiedebat tussen hom en Romney verlede week.
Caroll Doherty, mededirekteur van Pew, het volgens berigte in die internasionale media gesê: “Ons het ’n dramatiese skuif van ’n beduidende Obama-voorsprong gevind na ’n effense Romney-voordeel onder waarskynlike kiesers – en dit is die eerste aanduiding dat die debat ’n uitwerking op die wedloop het.”
Onder vroue, waar Romney ’n maand met 18 persentasiepunte agtergeloop het, is hy en Obama nou kop aan kop met 47% elk.
Ander meningspeilings het ook bevind dat Romney deur die debat bevoordeel is, maar nie só dramaties nie. Volgens Gallup het die twee mededingers in die naweek met 47% elk gelyk geloop, maar gister is bevind dat Obama steeds met 50% teenoor 45% voor is. Ook ’n peiling van Reuters en Ipsos plaas die president steeds effens voor met 47% teenoor 45%.
Intussen het ’n selfversekerde Romney Obama se buitelandse beleid begin aanval. Hy het voor ’n groep kandidaat-offisiere in Virginië gesê Amerika moet ’n leier wees in die wêreld, iets wat onder die Obama-administrasie nie gebeur nie.
Die tweede debat vind eers op 22 Oktober plaas. Donderdag word die televisiedebat tussen die twee visepresidentskandidate, Joseph Biden (Demokraat) en Paul Ryan (Republikein) gehou.