Romney wys kandidaat aan
2012-08-12 00:16
Mitt Romney, Republikeinse kandidaat vir die Amerikaanse presidentsverkiesing, het uiteindelik sy kandidaat vir die pos van visepresident aangewys - en dit is ’n keuse waarmee die regse vleuel van sy party waarskynlik baie in hul noppies gaan wees.
“Mitt se keuse vir ’n visepresident is Paul Ryan,” het ’n SMS-boodskap van sy verkiesingsmasjien aan ondersteuners dit gisteroggend aangekondig.
Ryan is ’n 42-jarige politikus van die deelstaat Wisconsin wat tans voorsitter van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se begrotingskomitee is.
Romney sou dié nuwe tweede-in-bevel van hom gister op ’n oorlogskip in Norfolk, Virginië, amptelik bekendstel.
Dié twee gaan nou op 6 November die Demokratiese paar, pres. Barack Obama en visepres. Joe Biden, aandurf.
Ryan se toetrede tot die resies sal die kwessie van staatsbesteding en skuld tot selfs meer van ’n brandpunt in die verkiesing verhef.
Konserwatiewe kiesers, wat van die begin af maar louwarm oor Romney gevoel het, het hom aangemoedig om Ryan as spanmaat te kies.
Die politikus van Wisconsin is veral gewild onder die Republikeinse party se ultrakonserwatiewe vleuel, die Tea Party, omdat hy hul weersin in belasting en hul geloof in die inperking van die regering deel.
Ryan is die voorsteller van ’n omstrede begroting in die huis van verteenwoordigers ingevolge waarvan die regering se gesondheidsbesteding aan ou en arm mense besnoei sal word.
Demokrate, wat graag die stemme van ouer kiesers in bestrede deelstate soos Florida wil inpalm, sal waarskynlik dié kwessie sterk uitbuit.