SA boer alles kwyt in Zim
2012-12-22 23:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Marlene Malan in Kaapstad
Enkele dae voor Kersfees moes ’n Suid-Afrikaanse boer, wat sedert 1965 grond in Zimbabwe besit het, Vrydag hoor hy het alles in dié land verloor.
Dit kom nadat ’n Zimbabwiese hof hom daaraan skuldig bevind het dat hy “staatsgrond” beset. Die betrokke grond is sy eie plaas in die suidooste van die land, in die omgewing van Chiredzi.
Op die koop toe moes Piet Henning (72) van Makhado ’n boete van $100 (Amerikaans – sowat R850) betaal voordat hy die hofgebou kon verlaat.
Hy moet so gou moontlik al sy besittings op die werf, in die opstal en skure verwyder.
Voorheen is van sy landboutoerusting ook al gekonfiskeer.
Die grootste deel van sy plaas van 81 ha is reeds in 2003 gekonfiskeer, “met oes en al”, het hy voor die hofsaak aan Rapport gesê.
Henning en sy seun, Greig, was jare lank vooruitstrewende boere op drie plase. Een hiervan is ook sedertdien heeltemal verwoes.
“Ek het nou niks meer in Zimbabwe oor nie,” het hy gister gesê.
“Dit gaan maar oor net een saak – as jy wit is, mag jy nie grond in Zimbabwe besit nie.
“Om te appelleer is duur en moeilik. Ek aanvaar alles van my in Zimbabwe is nou weg. Dalk kom daar darem nog ’n bietjie vergoeding.”