Siekes se vatterigheid laat ander aansteek
2013-02-19 12:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Bly liewer tuis as jy siek is!
Tot nou is gemeen ’n sieke se gehoes en geproes versprei die kieme, maar uit nuwe navorsing blyk dit die oppervlakke waaraan dié persoon raak laat ’n siekte baie vinniger die ronde doen.
Wanneer iemand wat siek is wel kom werk, word dié oppervlakke binne vier uur besmet, is bevind in ’n nuwe studie deur viroloë aan die Universiteit van Arizona in Amerika.
Meer as die helfte van die ander werknemers sou teen etenstyd aangesteek het, lui die studie. Daar is ook bevind dat drukkers, fotokopieerders, deur- en koffiepothandvatsels, telefone, lessenaars en tafels van die kiemryke gevaarsones is.
In dié studie – waarby 80 kantoorwerkers by die universiteit betrek is – het sommige suiwer waterdruppels op hul hande gekry.
Een van dié deelnemers het ’n druppel gekry met ’n virus wat die gedrag naboots van virusse wat verkoue, griep en maagaandoenings versprei. Ná sowat vier uur het die navorsers die oppervlakke getoets waarmee almal in die kantoor in aanraking kom. Ook die werknemers se hande is getoets. Meer as 50% van die oppervlakke en die werknemers is met minstens een van die virusse besmet.
Prof. Charles Gerba, een van die navorsers, sê meer as 80% van die werkers in Amerikaanse kantore sê hulle gaan wel werk toe wanneer hulle siek is.
“Só versprei hulle nie net kieme nie, maar dit kan ’n maatskappy sowat $280 (R2?380) per dag aan verlore produktiwiteit kos,” sê hy.
“Die meeste mense volg nie eenvoudige higiëniese gewoontes soos om in ’n sneesdoekie te hoes of te nies en dan hul hande te ontsmet nie,” sê Gareth Lloyd-Jones, besturende direkteur van die gesondheids- en sanitasiemaatskappy Ecowize.
In ’n studie deur die Adcorp-werwingsmaatskappy is bevind Suid-Afrika het in 2011 sowat R3,9 miljard aan uitsette ingeboet weens siekteverlof en afwesigheid. Afwesigheid kom veral in die regeringsektor voor.
’n Derde van die werkers in die openbare sektor was in 2011 op siekteverlof, vergeleke met 9,2% in die private sektor.