Skeepsramp eis minstens 3
2012-01-14 23:28
Geen Suid-Afrikaners was aan boord van die Costa Concordia toe dit Vrydagnag naby die eiland Giglio aan die Italiaanse kus ’n rotslys getref het nie.
Sowat 3 200 passasiers en 1 000 bemanningslede is gered toe die skip van £450 miljoen (sowat R5,6 miljard) ’n skeur van 50?m aan die linkerkant van die romp opgedoen en dit ontruim moes word.
Drie lyke is uit die water gehaal, maar die dodetal kan nog styg. ’n Bejaarde slagoffer (65) het vermoedelik weens die skok van die koue water gesterf. Nog 14 mense het ligte beserings soos kneusmerke opgedoen.
’n Werknemer van die departement van internasionale betrekkinge in Pretoria wat nie geïdentifiseer wou word nie, het gistermiddag bevestig dat hulle die situasie dophou, maar dat hulle tot op hede van geen Suid-Afrikaners bewus is wat op die skip sou wees nie.
Die 13 verdieping hoë skip was skaars twee uur uit die hawe van Civitavecchia op pad na Savona in die noordweste van Italië toe die ongeluk gebeur en seewater die ruim binnegestroom het. Vreesbevange passasiers is beveel om reddingsbaadjies aan te trek terwyl die 260?m lange “drywende paleis”, wat passasiers tot £1 200 (R15 000) per nag uit die sak jaag, begin kantel het.
Dit het die reddingsoperasie bemoeilik om reddingsbote van die skip af in die water te laat, maar plaaslike skippers het met hul bote die passasiers te hulp gesnel en hulle uit die water gehaal of van die skip afgelaai.
Bronne: www.dailymail.co.uk; www.bbc.co.uk