Sy is Michael Phelps se meisie
2012-08-18 23:15
Die Amerikaanse super-swemmer Michael Phelps was nog altyd uiters privaat oor sy liefdeslewe.
Maar die blonde skoonheid in sy lewe, die model Megan Rossee (25), het op 5 Augustus hul verhouding met ’n foto op die sosiale netwerk Instagram wêreldkundig gemaak.
Rossee sit styf vasgedruk teen Phelps waar hy met ’n groot glimlag die medaljes wys wat hy op die pas afgelope Olimpiese Spele in Londen gewen het.
Die byskrif is: “@michaelphelps “Yay Michael :)”
Phelps (28), ongetwyfeld die grootste swemmer tot nog toe, het sy uittrede ná die Spele aangekondig.
Hy het in sy loopbaan ’n rekord van 18 Olimpiese goue medaljes losgeswem.
Die afgelope week is Rossee op die strand in Santa Monica in Kalifornië in ’n eina-bikini – boonop ’n blinkgoue een – afgeneem.
Terwyl Rossee in die see baljaar en vlugbal op die strand gespeel het, het Phelps saam met mansvriende in die Maldive ontspan.
Hy was so haastig om daar te kom dat hy die afsluitingseremonie in Londen misgeloop het.