Sy keelaf-lyk vir krokodille gevoer

2012-07-16 06:47

Estie en Marius Pienaar op hul troudag in Augustus verlede jaar. Estie is die afgelope week saam met twee ander beskuldigdes aangekeer weens die moord op Marius, ’n Suid-Afrikaner wat die afgelope ses jaar in Zambië woon.

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die Suid-Afrikaner wat net meer as twee weke gelede in Zambië vermoor is, was vasgevang in ’n liefdesdriehoek en is ná sy fyn beplande moord “vir die krokodille gevoer”.

Die Zambiese polisie het die afgelope week aan Rapport gesê Marius Pienaar (50) is vermoedelik in sy slaap met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan én sy keel is afgesny voordat sy lyk in die Zambezirivier gegooi is in die hoop dat krokodille dit sou opvreet.

Daarna het sy moordenaars glo sy skoene op die rivieroewer en sy visstok in die water “geplant” om dit te laat lyk of ’n krokodil hom gevang het.

Sy vrou, Estie (33), asook Nicky Rossouw (58) en Mulumbwa Nyambe (30), is die afgelope week gearresteer in verband met dié moord. Rossouw is die eienaar van die Nina-hengelkamp net buite Sesheke in die westelike provinsie van dié land waar die Pienaar-egpaar vakansie gehou het. Nyambe is een van sy werkers.

“Die vrou en die eienaar het albei aan die polisie erken dat hulle ’n liefdesverhouding het en dat hy (Rossouw) met haar wou trou.

“Hulle ontken egter enige betrokkenheid by Pienaar se moord,” het komm. Fanwell Siandenge, ’n polisiewoordvoerder, aan Rapport gesê.

“Hulle het al drie Dinsdag in die hof in Sesheke verskyn en word daar in ’n tronk aangehou.

“Hulle sal weer op 25 Julie verskyn.”

Marius, ’n myntegnikus van Phalaborwa wat ses jaar gelede na Zambië verhuis het, het op 26 Junie raaiselagtig uit dié kamp verdwyn.

Sy lyk is vyf dae later, ná ’n grootskaalse soektog, in die rivier gevind.

“Ons het eers die verdagtes se storie geglo dat hy deur ’n krokodil gevang is, maar toe ons die lykskouingsverslag en die oorsaak van sy dood sien, het ons besef wat regtig gebeur het,” het Siandenge gesê.

“Die oorledene is met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan én sy keel is afgesny – vermoedelik terwyl hy gelê en slaap het.

“Ons het bloedspatsels op die planke van sy bed gevind en dis reeds weggestuur vir toetse na ’n hospitaal in ­Lu­saka.”

Volgens Siandenge was nét die Pienaars, Rossouw en Nyambe die aand van die moord in die kamp.

“?’n Ander werker is omstreeks 20:00 huis toe, maar hy het gesien hoe dié vier saamkuier.

“Hy is die volgende oggend terug kamp toe, maar die oorledene was weg.

“Niemand het in daardie stadium na hom gesoek nie,” het Siandenge gesê.

“Dié werker het sy skoene op die oewer van die rivier gevind, waarna die polisie ontbied is.”

Marius se visstok is ’n ruk later in die rivier gevind.

“Ons glo die moord was fyn beplan en dat die skoene en die visstok geplant is om dit te laat lyk asof hy deur ’n krokodil gegryp is,” het Siandenge gesê.

“Sy moordenaars het egter sy lyk vir die krokodille gevoer in die hoop dat dit nooit gevind sou word nie.

“Ongelukkig vir hulle het dit uitgespoel en was daar geen bytmerke daaraan nie.”

Volgens hom is familielede van ­Marius reeds in Lusaka om sy oorskot terug te bring na Suid-Afrika.

;?Nelson Kgwete, ’n woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het aan Rapport bevestig die beskuldigdes sal in Zambië verhoor word en nie aan Suid-Afrika uitgelewer word nie.

Die doodstraf kan steeds in Zambië opgelê word weens moord, hoewel dit laas in Januarie 1997 voltrek is toe agt mense tereggestel is.

Pienaar aan 'n vriendin voor sy troue: ‘My lewe begin môre’


Marius Pienaar het die aand voor sy troue met Estie in Augustus verlede jaar aan sy boesemvriendin gesê sy ­lewe “begin môre”.

Vandag, byna ’n maand voor hul eerste huweliksherdenking, staan dié voormalige toeroperateur van Ruimsig in Johannesburg, haar beweerde minnaar en ’n 30-jarige Zambiër in dié land tereg op Marius se gru-moord.

Estie, Nicky Rossouw en Mulumbwa Nyambe het Dinsdag in ’n hof in Sesheke verskyn nadat Marius se lyk vroeër in die Zambezirivier gevind is.

“Marius was ’n wonderlike man.

“Hy het oorgeloop van die goedheid en hy is die laaste mens wat só moes sterf,” het dié vriendin, wat verkies om anoniem te bly, aan Rapport gesê.

“Hy was destyds só opgewonde oor die troue en het my nog die vorige aand gekontak om te sê sy lewe begin môre.”

Volgens haar het Marius en Estie ’n paar jaar gelede in Livingstone ontmoet en is hulle op 19 Augustus verlede jaar in Honeydew getroud.

Marius, wat voorheen vir die Palabora Mining Company in Phalaborwa gewerk het, het in 2006 na Zambië verhuis waar hy ’n senior tegnikus was by die Kanshansi-kopermyn in Solwezi.

“Ek het ’n dag of twee voor sy dood met hom gepraat en daar was geen sprake van enige probleme tussen hom en Estie nie. Hy het hook, line en sinker vir haar geval,” het die vrou gesê.

“Estie en Nicky ken mekaar al lank en sy het vir Marius aan hom voorgestel. Hulle het gereeld by Nina gaan visvang en daar oorgeslaap.

“Sy en Nicky is duidelik naby aan mekaar en skryf gereeld vir mekaar boodskappe op Facebook – selfs ná Marius se dood.”

Rossouw het die Zambiese polisie vroeër self gehelp soek na Marius en het gereeld foto’s en boodskappe oor hul vordering op sy Facebook-blad geplaas.

Op 1 Julie, die dag wat Marius se lyk gekry is, het Estie op een van dié boodskappe geskryf: “Duisende dankies vir jou Nicky en almal xxx.”

'Nicky het nag en dag na sy groot pel gesoek'

Nicky Rossouw het “snot en trane” gehuil toe Marius Pienaar vermis geraak het en het hárder as die polisie na “sy groot pel” gesoek.

So sê ’n vriendin van dié 58-jarige Namibiër, wat die afgelope week saam met Pienaar se vrou, Estie, en Mulumbwa Nyambe, ’n werker van die Nina-hengelkamp, aangekeer is in verband met die moord op Marius.

“Ek ken Nicky al meer as tien jaar lank en ek en my man hou gereeld by hom vakansie,” het dié vrou, wat anoniem wil bly, aan Rapport gesê.

“Hy is nie daartoe in staat om iemand leed aan te doen nie en ek weet niks van enige verhouding tussen hom en Estie nie. Hy het dan snot en trane gehuil toe hy my bel om te sê sy groot pel word vermis.”

Volgens haar het Rossouw nooit geglo ’n krokodil het Marius gevang terwyl hy gehengel het nie.

“Hy het ’n foonoproep gaan maak en toe hy terugkom, was Marius weg.

“Hy het vir die polisie bly sê dit kon nie ’n krokodil gewees het nie, want hy het gesóék, maar kon net twee kleintjies kry.”

Die eksvrou en seun van Rossouw, wat 12 jaar gelede van Namibië na Zambië verhuis het om Nina te begin, het intussen na dié land gevlieg.

Hy was voorheen ’n paneelklopper en het ’n insleeponderneming besit.

“Hulle is rasend van bekommernis, maar sê dit gaan goed met hom in die tronk,” het die vriendin gesê.

“Hulle het reeds ’n advokaat van Lu­saka aangestel en hy meen daar is geen bewyse dat Nicky betrokke was nie. Hy het ook aangedring op ’n tweede lykskouing.”

Volgens haar het Rossouw “dag en nag” gesoek na Marius.

“Die polisie in Zambië het nie voertuie of petrol nie en Nicky het alles self gereël en betaal,” het sy gesê.

“Hy het alleen aangehou soek, selfs toe die polisie en die myn (vir wie Ma­rius in Zambië gewerk het) al opgehou het.”





Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
7 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-20°C Sunny. Mild. Pta: 10-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 8-17°C Sunny. Mild. Bfn: 7-16°C Sunny. Cool.
Dbn: 17-24°C Rain late. Morning clouds. Mild. PE: 12-19°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!