Hulle smous dat hulle kan leef

2001-12-01 18:38

'n Mens sien hulle vroegoggend wanneer die stad nog nie behoorlik wakker is nie: straatsmouse wat uit alle rigtings met hul ware aankruie na hul sypaadjie-"winkels".

Dis die "nuwe aangesig" van middestede, waar informele handelaars sy aan sy sake doen met die formele ekonomie.

Prof. Kees van der Waal, hoof van die departement antropologie en ontwikkelingstudies by die Randse Afrikaanse Universiteit, sê die vorige bedeling het straatsmouse baie streng beheer. In die nuwe Suid-Afrika is dié maatreëls verslap.

"Tog lyk dit of daar nou weer beweeg word na die formalisering van die bedryf. Baie beplanners sien die smouse as 'n negatiewe verskynsel. Die beheer wat deesdae toegepas word, is egter nie dieselfde as vroeër nie. Daar is 'n groter sensitiwiteit en die handelaars het meer inspraak."

Dié groter sensitiwiteit waarmee straatsmouse benader word, spruit dalk uit die ekonomiese werklikhede.

Dis meestal mense wat nie in die formele ekonomie werk kan kry nie wat straathandelaars word. En as 'n mens moet kies tussen 'n toffiesmous en 'n bedelaar op die straathoek, is die keuse amper vanselfsprekend.

Die vraag is egter in watter mate hierdie mense toegelaat moet word om vryelik sake te doen.

Van der Waal sê die formalisering van die informele sektor het nadele.

"Daar is geen permanensie vir die mense in die bedryf nie. Hulle word ook nie genoeg beskerm nie. Doen hulle sake op plekke wat na die plaaslike owerheid se mening nie geskik is nie, word op hulle toegeslaan.

"Plaaslike owerhede wys dikwels meer formele markplekke aan hulle toe, maar dan is hulle hul strategiese plek - byvoorbeeld naby stasies - kwyt."

Die informele handelaars se mark bestaan dikwels uit arm mense wat vinnig toegang wil hê tot 'n klein hoeveelheid produkte. Hulle het nie altyd tyd en geld om by 'n groentewinkel uit te kom nie. Straatsmouse bied 'n diens deurdat hulle bydra tot die vervaardiging en verspreiding van goedere.

"Die uitdaging is om die regte produk op die regte tyd en die regte plek te verkoop. En om vir lang ure te werk om in die loop van die dag hopelik 'n inkomste te verdien.

"Binne 'n wyer definisie van ekonomiese bedrywighede kan jy hulle nie as werkloses ag nie."

Dis belangrik om werkloses te help om 'n alternatief te hê vir 'n formele betrekking. Weens globalisering word formele werkgeleenthede ál minder. Dit dwing mense na die informele sektor. Sonder dié informele ekonomiese bedrywighede sou die mense geen toegang tot inkomste gehad het nie, sê Van der Waal.

Mnr. Ulrich Joubert, ekonoom van Transnet en voorsitter van die ekonomiese advieskomitee van die Afrikaanse Handelsinstituut, sê: "Hierdie bedryf help 'n klomp mense om te oorleef, want werk is baie skaars."

Hy wys ook op die simbiose tussen die formele en informele ekonomie. As daar nie mense in die formele sektor van die ekonomie werk nie, is daar nie 'n mark vir die smouse nie. Baie kantoorwerkers wat saans na bushaltes of taxi-staanplekke stap, koop by straatsmouse.

Ja, maar betaal die straatsmouse belasting?

Darem deur BTW, sê Joubert, maar dié belasting word nie op groente en vrugte gehef nie, en die vraag is hoeveel beheer daar op BTW-betalings is.

Deur die jare is die twispunt oor die dikwels onbeheerde informele handel in die sentrale middestede die vraag in watter mate die straatsmouse bydra tot die aanmerklike verval van baie stadskerns.

En deesdae word gevra of hulle nie dalk kan help om die middestede te laat herleef nie.

Daarvoor, sê Joubert, is hul inslag dalk te klein, ondanks die aanmerklike toename in straatsmouse. Vir baie ondernemings is hulle 'n irritasie en soms is die irritasie só groot dat formele handelaars hul winkels uit die middestad wegneem.

Straathandelaars sal nie meebring dat 'n gebou soos die Carlton, eens die juweel van die Johannesburgse middestad, herleef nie. Maar dis vermag toe 'n reuse- formele onderneming soos Transnet daarheen getrek het.

Maar die informele handelaars doen ten minste iets: "Dis beter om 'n kultuur te hê van 'kom ek doen iets' as 'n kultuur van 'kom ek bedel vir iets'."

Mnr. Dave Jaars, sekretaris-generaal van die Gauteng Hawkers' Association (GHA), sê dié organisasie is voortdurend in gesprek met plaaslike rade om handelaars te help om sake meer georganiseerd te doen.

"Ons verteenwoordig die handelaars ook in die hof as hulle op die verkeerde plek handel dryf en die plaaslike raad hulle aankla.

"Baie van die handelaars verkoop nog steeds op plekke waar hulle nie mag wees nie, maar dit is waar hul mark is. Dis moeilik. Vandag vat jy hulle weg, môre is hulle terug."

Jaars sê die smouse se grootste probleem is groot ondernemings wat kla dat die informele handelaars hul klandisie wegvat.

"Dit veroorsaak dat die ou op straat gesien word as 'n bedreiging, en as hierdie mense met die vet tjekboeke praat, luister die plaaslike rade."

Tog meen Jaars meer mense begin sien wat die ekonomiese belangrikheid van straatsmouse is.

"Die man moet tog vanaand ook 'n bord kos op die tafel sit. Met die groot werkloosheidsyfer in die land kan jy hom nie van die straat jaag nie. Doen jy dit, dwing jy hom tot misdaad om aan die lewe te bly."

Jaars sê straatsmouse verdien tussen R20 en R500 per dag, afhangende van die produk wat hulle verkoop. Die gewildste produkte bly groente en vrugte.

Ook hy meen die aantal straatsmouse het die afgelope tien jaar skerp toegeneem. Hy skryf dit toe aan die stygende werkloosheidsyfer.

Me. Antoinette Mostert, woordvoerder van die metropolitaanse raad van Tshwane, sê daar is ongeveer 3 500 straatsmouse in die groter Pretoria.

"Daar was beslis 'n toename, en veral die formele handelaars ervaar dit as negatief omdat dit hul ondernemings raak.

Dit hou ook gesondheidsgevare in omdat daar nie altyd voldoende toiletgeriewe vir die mense is nie. Van hul produkte verstop soms stormwaterpype en in die breë dra hul teenwoordigheid toe tot 'n onnetjiese stad weens al die vullis."

Die raad het regulasies wat voorsiening maak vir gebiede waar smouse sake wettig kan doen.

Mnr. Paul Willamson, koördineeder: informele handel van Kaapstad se unistad, sê sy raad fokus sterk daarop dat informele handel 'n sleutel-voertuig is vir werkskepping.

"Natuurlik moet hul sake nie inmeng met die sake van ander ondernemings in die stad nie. Daar moet 'n fyn balans wees tussen ondernemings se belange, die behoeftes van die gemeenskap en die behoeftes van informele handelaars.

"Ons probeer 'n omgewing skep waar die smouse sake kan doen sonder om ander rolspelers se belange te benadeel. Ons doen verder baie moeite om informele markte te skep waar iemand wat werkloos is, van vooraf kan begin om vir hom 'n werk te skep.

"Hulle word bygestaan met bemarkingsvaardighede en sakepraktyk in die hoop dat hulle volwaardige entrepreneurs sal word."

Williamson meen met goeie beheer kan die informele handelaars selfs help om nuwe lewe in die stad se sentrale sakedistrik te blaas.


Tekkies, uie, en kos vir 'men in suits'


Johannesburg is 'n soort mekka vir informele handelaars. Sy middestad was die eerste waarvan die karakter totaal daardeur verander is.

Maar die krioelende menigte op die sypaadjies is mense, elk met 'n eie verhaal, baie van hulle immigrante wat met blink drome na Suid-Afrika verhuis het.

Mnr. Mohammed Dallio (27) het drie jaar gelede van Senegal hier aangekom met R800. Hy het niemand in die land geken nie.

"Dit is nie maklik om hier 'n werk te kry nie," sê hy. Dallio het die geld wat hy gehad het, gebruik om by groothandelaars beursies, gordels en sweetpakke te koop. Dit het hy weer verkoop in gebiede soos Springs, Alberton en Vereeniging.

Vir die afgelope agtien maande verkoop hy skoene in Markstraat.

"Die lewe is nie maklik nie. Ek verdien tussen R500 en R800 per maand en daarmee onderhou ek my vrou en kind wat nog in Senegal is."

Maar hy is trots om darem iets vir homself en sy gesin te kan doen. Vroegoggend, terwyl die stad nog begin wakker word, rangskik hy sy handelsware op 'n tafel en stof dit af. Die skoene moet blink. Stowwerige skoene verkoop nie.

'n Entjie verder is vier lede van die Chifeche-familie besig om vars uie, tamaties en rissies in sakkies te verpak. Mnr. George Chifeche (22) sê hulle het in 1997 van Mosambiek na Suid-Afrika verhuis.

"Ons kan nie werk kry nie, daarom verkoop ons groente. Ons verdien tussen R200 en R300 'n dag en daarmee onderhou ons omtrent vyftien mense. Niemand pla ons hier nie. Ons groente en vrugte is vars. Ons huur 'n motor vir R50 en dan gaan koop ons die groente en vrugte van die mark by City Deep."

Die gesin droom daarvan om eendag 'n regte groentewinkel te hê, maar vir eers moet hulle tevrede wees om hulle ware op omgekeerde kartonbokse uit te stal.

Ná 'n dag se werk word die goedere in 'n gebou in Marshallstraat gestoor. 'n Handelaar betaal R11 huur per dag vir dié voorreg.

Die Chifeches verkoop hul groente op die voorstoep van 'n skoenwinkel.

"Ons pla hulle nie en hulle pla ons nie. Mense wat by ons koop, kyk na die skoene in die vensters. As dit reën, mag ons ons groente en vrugte skuif tot teenaan die venster sodat dit nie nat reën nie," vertel Chifeche.

Mev. Bongi Ngubeni (32) van Soweto en haar drie susters het ook 'n familie-onderneming op Mark-straat se sypaadjie. Ngubeni het tien jaar gelede begin om lekkergoed by 'n tafeltjie te verkoop. Vandag is sy die trotse dryfkrag agter BB's-wegneemetes.

Die vier vroue het 'n klein kombuisie met gasstowe waarop blink skottels vol pap en hoender prut. Eenkant braai goudbruin vetkoekies.

"Ek weet die owerheid wil ons hier wegvat en op 'n ander plek neersit, maar die mense wat ons kos koop, is hier," sê Ngubeni.

Sy beduie trots na die hoë kantoorgeboue. "Dis die 'men in suits' wat middagetes by ons kom koop. Mense loop van die hooggeregshof af om hulle kos hier te kry. Die polisie koop by ons. Wit mense koop by ons."

Vir R12 kan jy 'n bord pap en hoender of pap en vleis kry. Op 'n stil dag verdien die susters tussen R300 en R400 en op 'n besige dag steek hulle tussen R600 en R700 in die sak.

Ngubeni is 'n enkel-ouer met drie kinders. "My familie kan nie werk kry nie. Waar sal ons heen gaan? Hier kan ons iets doen vir ons familie.

En ons gee vir die mense van die stad iets - elke dag 'n vars bord kos."


'n Korporatiewe kultuur by die stopstraat


Dis nie net in die groot middestede waar informele handelaars hul sake doen nie. Dié "verkooplui" is deesdae 'n algemene gesig by verkeersligte en groot kruisings waar hulle alles van lekkergoed tot skryfgoed verkoop.

Mnr. Mark Kruger, nasionale bestuurder van Stop.Shop sê dié Artikel 21-maatskappy het vroeër vanjaar onder leiding van Super Group 'n projek begin om gestruktureerde werkgeleenthede vir informele handelaars te skep.

"Die twee groot probleme in die land is misdaad en werkloosheid. Deur die formalisering van straathandelaars slaag ons daarin om vir die mense 'n korporatiewe identiteit te skep. Hulle kry opleiding en word van spesiale uniforms voorsien.

"Die persoon werk vir homself, maar hy het die ondersteuning van 'n groter netwerk. Ons verkopers se produkte word ook gewaarborg. Vir die eerste keer in die geskiedenis kan jy nou iets by 'n straathandelaar koop en as jy nie tevrede is met die produk nie, bel jy die tolvrynommer en ons sal binne 48 uur die produk op jou voorstoep vervang of jou geld terugbring."

Stop.Shop-handelaars mag net op toegewysde (wettige) plekke handel dryf. Kruger sê hulle hou hul handelsgebiede skoon en is trots op die produkte wat hulle verkoop en die plekke waar hulle dit verkoop.

Hoewel die projek eers onlangs van stapel gestuur is, werp dit reeds groot vrugte af.

"Een van ons handelaars moes die skool vroeg verlaat omdat daar nie geld was nie. Nou betaal hy vir sy boetie se skoolgeld en hy spaar om later sy eie opleiding te verbeter. Ons het ook 'n ou man wat vir die eerste keer in twintig jaar 'n betrekking het. Of die son nou skyn en of dit reën: hy is op sy pos, want hy het 'n familie om te ondersteun.

"Dis waaroor dit gaan - om 'n nie-winsgewinde infrastruktuur te skep waarbinne werk geskep word sodat individue hul eiewaarde kan terugwen deur 'n gehalte-produk aan die publiek te lewer."

Boonop beplan Stop.Shop se handelaars 'n nuwe projek om by te dra tot misdaadbekamping.

Kruger verduidelik: "Elke handelaar word toegerus met 'n alarm wat verbind is met 'n sekerheidsreaksiemag. As die handelaars misdaad of 'n ongeluk sien gebeur of verdagte omstandighede identifiseer, druk hulle bloot die knoppie en 'n motor van Chubb, die sekerheidsgroep wat saam met ons werk, ry na die toneel om ondersoek in te stel."

- Rapport

binne rapport

Weer
Ksd: 12-15°C Numerous showers. Afternoon clouds. Cool. Pta: 3-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-18°C Sunny. Mild. Bfn: 5-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 9-27°C Sunny. Warm. PE: 10-22°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!