Stilte in die hof!

2010-04-03 11:39

In die Europese hemel is die Britte die polisiemanne, die Duitsers die ingenieurs, die Franse die kokke, die Italianers die minnaars en die Switsers organiseer alles. In die Europese hel is die Duitsers die polisiemanne, die Franse die ingenieurs, die Britte kook, die Switsers is die minnaars en die Italianers organiseer alles.

Toe ek in die laat 1990’s in Duitsland gebly het, was dit ’n grappie wat ek gereeld op partytjies gehoor het. Almal kon hieroor lag en niemand het dit as rassisties of hatig beskou nie. En laat ons gerus onthou, hierdie volke het mekaar oor eeue in verskeie oorloë afgemaai.

Maar dit sal moeilik wees om ’n Suid-Afrikaanse vertaling vir dié grap te vind wat niemand aanstoot gee nie. Die gevoelig­hede oor die verlede lê nog te na aan die oppervlak van ons verdeelde samelewing. Om die waarheid te sê, 16 jaar ná ons eerste demokratiese verkiesing klou ons in die parlement, om die raadstafel, in restaurante en by die vergaderings van ouer-onderwysersverenigings desperaat aan die goeie tafelmaniere van politieke korrektheid, terwyl die kakkerlakke van ou wrewel, wantroue en haat so hard onder die vloerplanke lawaai dat ons mekaar dikwels skaars kan hoor.

Die bruin digter Ronelda Kamfer sê dit sekuur in die eerste strofe van “Waar ek staan”, ’n gedig uit haar bekroonde debuutbundel, Noudat slapende honde(Kwela, 2008):

Nou sit ek om ’n tafel

met my voorvaders se vyande

Ek knik en groet bedagsaam

maar

êrens diep binne my

weet ek waar ek staan

’n Mens sou dink hierdie spanning tussen tale, kleure en kulture wat so ’n sentrale rol in die Suid-Afrikaanse samelewing speel, behoort ’n tema te wees waarom baie kontemporêre Afrikaanse poësie draai, maar sedert die 1994-verkiesing het dit stil geword.

Ek het so pas saam met Ronel de Goede die bloemlesing Nuwe stemme4(Tafelberg, 2010) saamgestel – ’n bundel waarin ongepubliseerde digters bekend gestel word. In die keurproses het ons die werk van meer as 250 digters gelees wat elk sewe gedigte ingestuur het. Benewens enkele verse wat op blatant paternalistiese wyse na ’n vroeër bestel hunker, of geweld, misdaad en veral plaasmoorde tematiseer, het die meeste (oorwegend wit) digters hulle met die natuur, godsdiens, liefde, familie, intertekstuele gesprekke, ars poetica of intieme herinneringe besig gehou. Ons kon weliswaar gedigte van André Trantraal en Sydda Essop opneem wat deels ’n skreiende blik gee op die sielkundige letsels wat die verlede in bruin gemeenskappe gelaat het, maar oor rassisme swyg die wit digters.

En dis nie ’n verwyt nie – ek stik self aan my eie verlammende mengsel van skuldgevoelens, vrees en ambivalensie wat hierdie tema betref.

Literêre temas behoort nooit voorgeskryf te word nie, maar wanneer rasse-spanning en -haat steeds so duidelik ’n potensiële gevaar vir veral ’n jong demokrasie inhou, is die stilte tog vreemd en benoud. En is die poësie nie juis ’n ruimte waarin die individu die volle skrikwekkende kompleksiteit van sy menslike verstrikking kan verken nie?

Hierdie verskynsel is egter nie net ’n wit Suid-Afrikaanse een nie. In sy essay “A Mystifying Silence: Big and Black” (American Poetry Review, September/Oktober 2007) kla die Afro-Amerikaanse digter Major Jackson oor wit Amerikaanse digters se swye oor die tema van ras. “Hoekom,” vra hy, “weerspieël en hou poësie nie boek van die evolusie van houdings ten opsigte van ras, soos wat Amerikaanse fiksie van Harriet Beecher Stowe se Uncle Tom’s Cabintot Philip Roth se The Human Staindit doen nie?”

Dieselfde kan oor die Afrikaanse prosa en poësie gesê word. Daar was Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie(2000) met die hoendervleis-gedig “ná grond-invasions in Zimbabwe’’, die bloemlesing Nuwe verset (2000) saamgestel deur Daniel Hugo, Leon Rousseau en Phil du Plessis, Brief uit die kolonies (2003) deur Marius Crous en enkele ander verse hier en daar (Charl-Pierre Naudé se “Twee diewe”, byvoorbeeld), maar daar het nie digbundels in die laaste dekade verskyn wat op dieselfde manier met die ontwikkeling van rasseverhoudings worstel as Marlene van Niekerk se Agaat(2004) en Eben Venter se Horrelpoot (2006) nie.

Jackson spekuleer oor moontlike redes vir dié fenomeen: Die selfsensuur van wit digters is waarskynlik deels te wyte aan die vrees van openbare verdoeming deur ’n politiek korrekte tydsgees. Enigeen wat hom-/haarself as progressief beskou, is bang om as reaksionêr afgestempel te word en dit gebeur maklik. Dink maar aan die besware van rassisme hier te lande wat luidkeels teen die werk van wit Nobelpryswenners soos Coetzee en Gordimer geopper is.

Jackson reken dit het moontlik ook met die oorwegend outobiografiese aard van poësie te doen. Fiksie-skrywers kan groter risiko’s waag en omstrede temas konfronteer deur middel van ongure karakters wat duidelik nie die outeur self verteenwoordig nie. Digters skep daarenteen “sprekers” wat meestal maar net ’n ligte versluiering van hul eie ontblote ek is. Binne elke mens is sekere vooroordele ten opsigte van ras, geslag, klas en ouderdomsgroepe, maar, sê Jackson, die meeste digters wil dit nie openlik toegee aan die verbeelde gehoor van sensitiewe, kritiese poësie-lesers nie. Selfs al stem hulle heimlik saam met die voormalige Amerikaanse hofdigter Robert Pinsky, wat in Democracy, Culture, and the Voice of Poetry(2002) verklaar het: “Poetry is not the voice of virtue and right thinking – not the rhyme department of any progressive movement.”

’n Amerikaanse digter wat egter nie wegskram van die rou sensitiwiteite rondom die ras­tema nie, is die veelbekroonde Tony Hoagland. Jackson bestempel hom as die mees kontroversiële kontemporêre wit digter oor ras. Hoagland-gedigte soos “The Change”, “Rap Music” en “Poem in Which I Make the Mistake of Comparing Billie Holiday to a Cosmic Washerwoman” het soveel opspraak in poësie-kringe verwek dat die Geraldine R. Dodge Foundation in 2006 ’n openbare gesprek oor “Race and Poetry” gereël het waaraan Hoagland saam met ander vooraanstaande digters deelgeneem het.

Die redes vir Hoagland se omstredenheid blyk duidelik uit “Rap Music”, waarin hy sy gevoelens as volg verwoord oor die aggressiewe hip hop wat uit ’n motor dawer:

...

I don’t know what’s going on inside that portable torture chamber,

but I have a bad suspicion

there’s a lot of dead white people in there

...

and what I’m not supposed to say

is that black for me is a country

more foreign than China or Vagina

more alarming than going down Niagara on Viagra

And it makes me feel stupid when I get close

like a little white dog on the edge of the big dark woods

I’m not supposed to look directly into

...

this tangled roar

which has to be shut off

or blown away or sealed off

or actually mentioned and entered.

In sy essay “Negative Capability – How to Talk Mean and Influence People” dink Hoagland self na oor die terughoudendheid van wit Amerikaanse digters rakende die rastema en kom tot die gevolgtrekking die digkuns van die afgelope dekades het gespesialiseer in empatie – ’n onvoldoende strategie vir so ’n emosioneel komplekse saak:

“To really get at the subject of race, chances are, is going to require some unattractive, tricky self-expression, something adequate to the paradoxical complexities of privilege, shame, and resentment. To speak in a voice equal to reality in this case will mean the loss of observer-immunity status, will mean admitting that one is not on the sidelines of our racial realities, but actually in the tangled middle of them. Nobody is going to look good.’’ (Dié essay is opgeneem in Hoagland se essay-bundel, Real Sofistikashun: Essays on Poetry and Craft, 2006.)

In sy nuwe digbundel, Unincorporated Persons in the Late Honda Dynasty(Graywolf Press 2010), sit Hoagland sy verkenning van diepe ongemaklikhede oor ras voort in onthutsende verse soos “Hinge”, “The Story of White People” en “Foghorn” (sien bl. 6). En dit is veral in laasgenoemde waar Hoagland sê waar hy staan, oftewel waar hy aan ’n spesifieke kafeteria-tafel teenoor ’n swart man sit. Sy taal is oneerbiedig en sardonies, want soos hy in “Negative Capability” sê: Venyn en onbeskoftheid is problematies in sosiale interaksie, maar in poësie kan dit waardevol wees. Die bereidheid om aanstoot te gee, bevry die roekelose waarnemer in elkeen van ons – daardie hatige, opmerksame klein wese wat raaksien en uitpraat sonder aarseling of doekies omdraai.

Deur in ’n gedig soos “Foghorn” toe te gee, kyk, my verwarde binneste het nog nie die ideologies gesteriliseerde punt bereik wat politiek korrekte taal verwoord nie; ek is nog vasgekeer in die familiemotor wat die geskiedenis gerol het, maar ek wil nogtans baie graag praat, nooi hy die man oorkant die tafel uit om ook die sluier te laat val. Dis ’n geval van ek’s nie oukei nie en jy seker ook nie, maar dit sal moet oukei wees, want dis eenvoudig hoe dit is.

Anton Kannemeyer (ook bekend as Joe Dog, die ikonoklastiese opstoker van Bitterkomix) is ’n Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar wat in sy onlangse werk soortgelyke polities gelaaide terrein as Hoagland verken. Dit is interessant hoe hy bewus met stereotipes werk en veral hoe die Belgiese strokieskunstenaar Hergé se Kuifie-karakter as verwysingspunt dien.

Sprekende voorbeelde is Raw Deal (bo regs) wat deel gevorm het van sy Fear of a Black Planet-uitstalling in die Michael Stevenson-galery in Kaapstad verlede jaar, asook The Liberals (bo links), ’n skildery uit sy nuwe uitstalling wat op 22 April by dieselfde galery open. In Kannemeyer se werk word Kui-fie die wit Afrikaan wat vasgekeer is in sy eie inkriminerende vel; ’n desperate karakter wat, ondanks sy eie liberale, demokratiese oortuigings, nie van sy koloniale verlede kan ontsnap nie. Die swart figure wat in die nagmerries van wit voorstedelinge spook, word bewus geteken nes Hergé die “primitiewe inboorlinge” in die lank verbode Tintin in the Congo(1931) uitgebeeld het.

Deur hierdie stereotipes in te span, gee Kannemeyer ons ’n ontstellende kyk in die troebel hart van wit vrees. Hoe kan angs, wat op die veronderstelling berus dat iets of iemand met jou kwade bedoelings het, ooit politiek korrek wees? word implisiet gevra. En nog meer uitdagend: Hoe opreg oop vir swart Afrika kan wit liberale werklik wees as die drome van geweld en verkragting wat hulle natgesweet in die nag laat wakker skrik, verstrengel is met rassistiese vrese wat met moedersmelk ingeneem is?

Maar hoekom is gedigte soos dié van Hoagland en kuns soos Kannemeyer s’n nodig? Blaas dit nie net ou rassistiese vure aan nie? Ons weet mos dis slegte tafelmaniere en potensieel gevaarlik om oor politiek of godsdiens te gesels. Die kuns en letterkunde was egter nog nooit ’n vorm van etiket nie, maar eerder ’n tastende verkenning van teenstrydighede en ambivalensies. En juis daarom mag kunstenaars hulle ook nie deur politieke korrektheid laat sensor of hulself sensureer nie. Deur stil te bly, sê Major Jackson in bogenoemde essay, behandel wit digters die morsige, maar noodsaaklike debat oor ras en etnisiteit as ’n toeskouersport; laat hulle die Eugene Terre’Blanche’e en Malemas alleen voortdonder. Deur so onverskrokke eerlik oor rasse-spanning soos Hoagland te dig, sê Jackson, skep hy ’n ruimte waarin ons openlik oor ras kan gesels, selfs al maak sy gedigte ons ongemaklik en al is dit soms uitermate selfregver-digend.

Sulke uitdagende kuns kan mense van verskillende groepe dus help om mekaar te verstaan. Soos die Afro-Amerikaanse skrywer James Baldwin dit in sy essay-bundel The Fire Next Time (1963) stel: “... relatively con­scious whites and the relatively conscious blacks must, like lovers, insist on, or create, the consciousness of others.”

As ons verwarde nasie-in-wording nie die dinge wat ons ten diepste ongemaklik maak, openlik gaan uitpraat nie, sal dit dalk net die demagoë, huursoldate en kapitalistiese opportuniste wees wat ons dreigende reënboogramp oorleef; gaan niemand ooit uit hul velkleur bevry word en uitkom by ’n plek waar Suid-Afrikaners van elke taal en kleur om dieselfde tafel of braaivleisvuur kan lag oor ’n inheemse grappie soortgelyk aan dié een oor die Europese hemel en hel nie.

So, digters, denkers en sensitiewe siele, sê asseblief waar julle diep binne met jul onstuimig gemengde gevoelens staan, en laat hy of sy wat ná drie en ’n halwe eeu se ras- en kultuurkonflik ’n perfek gesuiwerde, onbevlekte gemoed het, gerus die eerste klip gooi.

Danie Marais is ’n bekroonde digter.

Foghorn

When that man my age

came towards me in the fast food restaurant

with his blue plastic tray

and stood next to the table where I sat alone

(there was no place else to sit),

I looked up at him in welcome –

But when a black man and a white man

turn their glances on each other

the air suddenly fills up with secret signs,

like MLK and NBA, like KKK

and NRA, like DWB and NWA

—and it gets hard to see through

all that smoke and burning shrubbery.

And what with the internal sirens

and the historical foghorn

and the sprinkler system

designed to suppress non-categorical

fraternization

and the voice that says Impossible

and the other one that says Lying Motherfucker,

you just want to put your hands over your head

and step away from the vehicle.

Here is what we know:

history is a car wreck from which

our parents did not escape;

our nation is a career criminal;

we were raised to be liars and deniers.

Now here we are in time for our own

moment of unequal opportunity,

which we will probably fail to understand

or raise our best selves to.


In this land where consciousness is a fiction,

through the oxygen mask of my lies

and the skin of my self-deception,

this is what I say:

‘Brother, lean your brown face down

and let me look at you.’

- TONY HOAGLAND

* Bestel die boek:

Unincorporated Persons in the Late Honda Dynasty: Poems

http://etrader.kalahari.net/referral.asp?linkid=4415&partnerid=8796


- Rapport