Stilte in die hof!
2010-04-03 11:39
In die Europese hemel is die Britte die polisiemanne, die Duitsers die ingenieurs, die Franse die kokke, die Italianers die minnaars en die Switsers organiseer alles. In die Europese hel is die Duitsers die polisiemanne, die Franse die ingenieurs, die Britte kook, die Switsers is die minnaars en die Italianers organiseer alles.
Toe ek in die laat 1990’s in Duitsland gebly het, was dit ’n grappie wat ek gereeld op partytjies gehoor het. Almal kon hieroor lag en niemand het dit as rassisties of hatig beskou nie. En laat ons gerus onthou, hierdie volke het mekaar oor eeue in verskeie oorloë afgemaai.
Maar dit sal moeilik wees om ’n Suid-Afrikaanse vertaling vir dié grap te vind wat niemand aanstoot gee nie. Die gevoelighede oor die verlede lê nog te na aan die oppervlak van ons verdeelde samelewing. Om die waarheid te sê, 16 jaar ná ons eerste demokratiese verkiesing klou ons in die parlement, om die raadstafel, in restaurante en by die vergaderings van ouer-onderwysersverenigings desperaat aan die goeie tafelmaniere van politieke korrektheid, terwyl die kakkerlakke van ou wrewel, wantroue en haat so hard onder die vloerplanke lawaai dat ons mekaar dikwels skaars kan hoor.
Die bruin digter Ronelda Kamfer sê dit sekuur in die eerste strofe van “Waar ek staan”, ’n gedig uit haar bekroonde debuutbundel, Noudat slapende honde(Kwela, 2008):
Nou sit ek om ’n tafel
met my voorvaders se vyande
Ek knik en groet bedagsaam
maar
êrens diep binne my
weet ek waar ek staan
’n Mens sou dink hierdie spanning tussen tale, kleure en kulture wat so ’n sentrale rol in die Suid-Afrikaanse samelewing speel, behoort ’n tema te wees waarom baie kontemporêre Afrikaanse poësie draai, maar sedert die 1994-verkiesing het dit stil geword.
Ek het so pas saam met Ronel de Goede die bloemlesing Nuwe stemme4(Tafelberg, 2010) saamgestel – ’n bundel waarin ongepubliseerde digters bekend gestel word. In die keurproses het ons die werk van meer as 250 digters gelees wat elk sewe gedigte ingestuur het. Benewens enkele verse wat op blatant paternalistiese wyse na ’n vroeër bestel hunker, of geweld, misdaad en veral plaasmoorde tematiseer, het die meeste (oorwegend wit) digters hulle met die natuur, godsdiens, liefde, familie, intertekstuele gesprekke, ars poetica of intieme herinneringe besig gehou. Ons kon weliswaar gedigte van André Trantraal en Sydda Essop opneem wat deels ’n skreiende blik gee op die sielkundige letsels wat die verlede in bruin gemeenskappe gelaat het, maar oor rassisme swyg die wit digters.
En dis nie ’n verwyt nie – ek stik self aan my eie verlammende mengsel van skuldgevoelens, vrees en ambivalensie wat hierdie tema betref.
Literêre temas behoort nooit voorgeskryf te word nie, maar wanneer rasse-spanning en -haat steeds so duidelik ’n potensiële gevaar vir veral ’n jong demokrasie inhou, is die stilte tog vreemd en benoud. En is die poësie nie juis ’n ruimte waarin die individu die volle skrikwekkende kompleksiteit van sy menslike verstrikking kan verken nie?
Hierdie verskynsel is egter nie net ’n wit Suid-Afrikaanse een nie. In sy essay “A Mystifying Silence: Big and Black” (American Poetry Review, September/Oktober 2007) kla die Afro-Amerikaanse digter Major Jackson oor wit Amerikaanse digters se swye oor die tema van ras. “Hoekom,” vra hy, “weerspieël en hou poësie nie boek van die evolusie van houdings ten opsigte van ras, soos wat Amerikaanse fiksie van Harriet Beecher Stowe se Uncle Tom’s Cabintot Philip Roth se The Human Staindit doen nie?”
Dieselfde kan oor die Afrikaanse prosa en poësie gesê word. Daar was Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie(2000) met die hoendervleis-gedig “ná grond-invasions in Zimbabwe’’, die bloemlesing Nuwe verset (2000) saamgestel deur Daniel Hugo, Leon Rousseau en Phil du Plessis, Brief uit die kolonies (2003) deur Marius Crous en enkele ander verse hier en daar (Charl-Pierre Naudé se “Twee diewe”, byvoorbeeld), maar daar het nie digbundels in die laaste dekade verskyn wat op dieselfde manier met die ontwikkeling van rasseverhoudings worstel as Marlene van Niekerk se Agaat(2004) en Eben Venter se Horrelpoot (2006) nie.
Jackson spekuleer oor moontlike redes vir dié fenomeen: Die selfsensuur van wit digters is waarskynlik deels te wyte aan die vrees van openbare verdoeming deur ’n politiek korrekte tydsgees. Enigeen wat hom-/haarself as progressief beskou, is bang om as reaksionêr afgestempel te word en dit gebeur maklik. Dink maar aan die besware van rassisme hier te lande wat luidkeels teen die werk van wit Nobelpryswenners soos Coetzee en Gordimer geopper is.
Jackson reken dit het moontlik ook met die oorwegend outobiografiese aard van poësie te doen. Fiksie-skrywers kan groter risiko’s waag en omstrede temas konfronteer deur middel van ongure karakters wat duidelik nie die outeur self verteenwoordig nie. Digters skep daarenteen “sprekers” wat meestal maar net ’n ligte versluiering van hul eie ontblote ek is. Binne elke mens is sekere vooroordele ten opsigte van ras, geslag, klas en
ouderdomsgroepe, maar, sê Jackson, die meeste digters wil dit nie
openlik toegee aan die verbeelde gehoor van sensitiewe, kritiese
poësie-lesers nie. Selfs al stem hulle heimlik saam met die voormalige
Amerikaanse hofdigter Robert Pinsky, wat in Democracy, Culture, and the
Voice of Poetry(2002) verklaar het: “Poetry is not the voice of virtue
and right thinking – not the rhyme department of any progressive
movement.”
’n Amerikaanse digter wat egter nie wegskram van die rou
sensitiwiteite rondom die rastema nie, is die veelbekroonde Tony
Hoagland. Jackson bestempel hom as die mees kontroversiële kontemporêre
wit digter oor ras. Hoagland-gedigte soos “The Change”, “Rap Music” en
“Poem in Which I Make the Mistake of Comparing Billie Holiday to a
Cosmic Washerwoman” het soveel opspraak in poësie-kringe verwek dat die
Geraldine R. Dodge Foundation in 2006 ’n openbare gesprek oor “Race and
Poetry” gereël het waaraan Hoagland saam met ander vooraanstaande
digters deelgeneem het.
Die redes vir Hoagland se omstredenheid blyk duidelik uit “Rap
Music”, waarin hy sy gevoelens as volg verwoord oor die aggressiewe hip
hop wat uit ’n motor dawer:
...
I don’t know what’s going on inside that portable torture chamber,
but I have a bad suspicion
there’s a lot of dead white people in there
...
and what I’m not supposed to say
is that black for me is a country
more foreign than China or Vagina
more alarming than going down Niagara on Viagra
And it makes me feel stupid when I get close
like a little white dog on the edge of the big dark woods
I’m not supposed to look directly into
...
this tangled roar
which has to be shut off
or blown away or sealed off
or actually mentioned and entered.
In sy essay “Negative Capability – How to Talk Mean and
Influence People” dink Hoagland self na oor die terughoudendheid van wit
Amerikaanse digters rakende die rastema en kom tot die gevolgtrekking
die digkuns van die afgelope dekades het gespesialiseer in empatie – ’n
onvoldoende strategie vir so ’n emosioneel komplekse saak:
“To really get at the subject of race, chances are, is going to
require some unattractive, tricky self-expression, something adequate to
the paradoxical complexities of privilege, shame, and resentment. To
speak in a voice equal to reality in this case will mean the loss of
observer-immunity status, will mean admitting that one is not on the
sidelines of our racial realities, but actually in the tangled middle of
them. Nobody is going to look good.’’ (Dié essay is opgeneem in
Hoagland se essay-bundel, Real Sofistikashun: Essays on Poetry and
Craft, 2006.)
In sy nuwe digbundel, Unincorporated Persons in the Late Honda
Dynasty(Graywolf Press 2010), sit Hoagland sy verkenning van diepe
ongemaklikhede oor ras voort in onthutsende verse soos “Hinge”, “The
Story of White People” en “Foghorn” (sien bl. 6). En dit is veral in
laasgenoemde waar Hoagland sê waar hy staan, oftewel waar hy aan ’n
spesifieke kafeteria-tafel teenoor ’n swart man sit. Sy taal is
oneerbiedig en sardonies, want soos hy in “Negative Capability” sê:
Venyn en onbeskoftheid is problematies in sosiale interaksie, maar in
poësie kan dit waardevol wees. Die bereidheid om aanstoot te gee, bevry
die roekelose waarnemer in elkeen van ons – daardie hatige, opmerksame
klein wese wat raaksien en uitpraat sonder aarseling of doekies omdraai.
Deur in ’n gedig soos “Foghorn” toe te gee, kyk, my verwarde
binneste het nog nie die ideologies gesteriliseerde punt bereik wat
politiek korrekte taal verwoord nie; ek is nog vasgekeer in die
familiemotor wat die geskiedenis gerol het, maar ek wil nogtans baie
graag praat, nooi hy die man oorkant die tafel uit om ook die sluier te
laat val. Dis ’n geval van ek’s nie oukei nie en jy seker ook nie, maar
dit sal moet oukei wees, want dis eenvoudig hoe dit is.
Anton Kannemeyer (ook bekend as Joe Dog, die ikonoklastiese
opstoker van Bitterkomix) is ’n Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar wat
in sy onlangse werk soortgelyke polities gelaaide terrein as Hoagland
verken. Dit is interessant hoe hy bewus met stereotipes werk en veral
hoe die Belgiese strokieskunstenaar Hergé se Kuifie-karakter as
verwysingspunt dien.
Sprekende voorbeelde is Raw Deal (bo regs) wat deel gevorm het van
sy Fear of a Black Planet-uitstalling in die Michael Stevenson-galery in
Kaapstad verlede jaar, asook The Liberals (bo links), ’n skildery uit
sy nuwe uitstalling wat op 22 April by dieselfde galery open. In
Kannemeyer se werk word Kui-fie die wit Afrikaan wat vasgekeer is in sy
eie inkriminerende vel; ’n desperate karakter wat, ondanks sy eie
liberale, demokratiese oortuigings, nie van sy koloniale verlede kan
ontsnap nie. Die swart figure wat in die nagmerries van wit
voorstedelinge spook, word bewus geteken nes Hergé die “primitiewe
inboorlinge” in die lank verbode Tintin in the Congo(1931) uitgebeeld
het.
Deur hierdie stereotipes in te span, gee Kannemeyer ons ’n
ontstellende kyk in die troebel hart van wit vrees. Hoe kan angs, wat op
die veronderstelling berus dat iets of iemand met jou kwade bedoelings
het, ooit politiek korrek wees? word implisiet gevra. En nog meer
uitdagend: Hoe opreg oop vir swart Afrika kan wit liberale werklik wees
as die drome van geweld en verkragting wat hulle natgesweet in die nag
laat wakker skrik, verstrengel is met rassistiese vrese wat met
moedersmelk ingeneem is?
Maar hoekom is gedigte soos dié van Hoagland en kuns soos
Kannemeyer s’n nodig? Blaas dit nie net ou rassistiese vure aan nie? Ons
weet mos dis slegte tafelmaniere en potensieel gevaarlik om oor
politiek of godsdiens te gesels. Die kuns en letterkunde was egter nog
nooit ’n vorm van etiket nie, maar eerder ’n tastende verkenning van
teenstrydighede en ambivalensies. En juis daarom mag kunstenaars hulle
ook nie deur politieke korrektheid laat sensor of hulself sensureer nie.
Deur stil te bly, sê Major Jackson in bogenoemde essay, behandel wit
digters die morsige, maar noodsaaklike debat oor ras en etnisiteit as ’n
toeskouersport; laat hulle die Eugene Terre’Blanche’e en Malemas alleen
voortdonder. Deur so onverskrokke eerlik oor rasse-spanning soos
Hoagland te dig, sê Jackson, skep hy ’n ruimte waarin ons openlik oor
ras kan gesels, selfs al maak sy gedigte ons ongemaklik en al is dit
soms uitermate selfregver-digend.
Sulke uitdagende kuns kan mense van verskillende groepe dus help om
mekaar te verstaan. Soos die Afro-Amerikaanse skrywer James Baldwin dit
in sy essay-bundel The Fire Next Time (1963) stel: “... relatively
conscious whites and the relatively conscious blacks must, like lovers,
insist on, or create, the consciousness of others.”
As ons verwarde nasie-in-wording nie die dinge wat ons ten diepste
ongemaklik maak, openlik gaan uitpraat nie, sal dit dalk net die
demagoë, huursoldate en kapitalistiese opportuniste wees wat ons
dreigende reënboogramp oorleef; gaan niemand ooit uit hul velkleur bevry
word en uitkom by ’n plek waar Suid-Afrikaners van elke taal en kleur
om dieselfde tafel of braaivleisvuur kan lag oor ’n inheemse grappie
soortgelyk aan dié een oor die Europese hemel en hel nie.
So, digters, denkers en sensitiewe siele, sê asseblief waar julle
diep binne met jul onstuimig gemengde gevoelens staan, en laat hy of sy
wat ná drie en ’n halwe eeu se ras- en kultuurkonflik ’n perfek
gesuiwerde, onbevlekte gemoed het, gerus die eerste klip gooi.
Danie Marais is ’n bekroonde digter.
Foghorn
When that man my age
came towards me in the fast food restaurant
with his blue plastic tray
and stood next to the table where I sat alone
(there was no place else to sit),
I looked up at him in welcome –
But when a black man and a white man
turn their glances on each other
the air suddenly fills up with secret signs,
like MLK and NBA, like KKK
and NRA, like DWB and NWA
—and it gets hard to see through
all that smoke and burning shrubbery.
And what with the internal sirens
and the historical foghorn
and the sprinkler system
designed to suppress non-categorical
fraternization
and the voice that says Impossible
and the other one that says Lying Motherfucker,
you just want to put your hands over your head
and step away from the vehicle.
Here is what we know:
history is a car wreck from which
our parents did not escape;
our nation is a career criminal;
we were raised to be liars and deniers.
Now here we are in time for our own
moment of unequal opportunity,
which we will probably fail to understand
or raise our best selves to.
In this land where consciousness is a fiction,
through the oxygen mask of my lies
and the skin of my self-deception,
this is what I say:
‘Brother, lean your brown face down
and let me look at you.’
- TONY HOAGLAND
* Bestel die boek:
Unincorporated Persons in the Late Honda
Dynasty:
Poems
http://etrader.kalahari.net/referral.asp?linkid=4415&partnerid=8796
- Rapport