Hoe swart kan wit dan word?

2009-12-26 15:51

Hans Pienaar vra die vraag oor Antjie Krog se "eerlike poging".

Hoe aspris was Antjie Krog met haar nou berugte Julius Malema-uitsprake?

Dié vraag het by my opgekom by die lees van Begging to Be Black, ’n weergalose skatkis van meesleurende vertellings, hipersubtiele denke en reeds klassieke beskrywings – alles onder die sambreel van die ongelukkigste titel in dekades.

Haar versugting dat Malema-kritici moet oplet waar hy vandaan kom, het almal de bliksem in gemaak, ’n stormpie wat net oorskadu is deur Boetman se dood, wat self ’n lang stuk geskryf het waarin hy pront weier om eers Krog se boek te lees.

Ek vra die vraag, want die hele besigheid is nogal ’n goeie demonstrasie van die spilpunt van die boek: ’n Ondersoek na die moontlikheid van begrip van die rasse vir mekaar oor die grense van vergestaltings van witheid en swartheid. Krog se boek het, soos ’n goeie roman, ’n oop einde, en sy stop net voor ’n finale besluit dat dit nie kan gebeur nie.

Want, sê sy, wit mense, met hul moderne mediadeurdrenktheid en ondeurdringbare geestelike skanse van meerderwaardigheid, kan nie anderkant hul eie projeksies van swartwees kyk nie. Selfs wanneer hulle universele waardes probeer toepas, is dit onherroeplik gerelativeer deur hul magverankerings.

Al sou dit waar wees in die geval van Malema – en ek dink nie dit is nie – moes sy dit liewer nie gesê het nie, want dit sal lesers afsit van ’n boeiende leeservaring. Die boek is minstens drie, vier werke in een: ’n Deurdringende analise van die politieke filosofie van koning Moshoe­shoe, ’n boeiende dialoog rondom rasse-identiteit, ’n dagboek van ’n Duitse verblyf, en ’n briewereeks aan ’n ma. Elkeen van hierdie narratiewe het sy eie formaat en subteks, en saam vorm hulle ’n geheel wat ’n mens ’n paar keer sal moet lees om ten volle te geniet.

Daar is die probleem van die titel. Soos ook in haar digkuns, het Krog ’n naïewistiese streep wat haar druk om ligsinnige, amper hoërskoolmeisie-agtige opmerkings in te smokkel. In die middel van ’n gesprek met haar gespreksgenoot in ’n Duitse akademie merk sy op: “Boy, I am so deep into this, I have to swim.”

Die probleem is nie die lighartigheid nie, maar dat dit haar eie argumente ondermyn. Afgesien daarvan dat sy die titel nooit regtig verduidelik nie, “it begs the question”: Wie wil nou regtig swart wees? Die meerderheid Suid-Afrikaners wat uitgelewer is aan ’n xenofobiese stryd om oorlewing, of mense wat nie altyd ernstig opgeneem word nie omdat hulle begunstigdes van Eurosentriese swart bemagtiging is?

Dis jammer, want Krog bied ’n eerlike en volgehoue poging aan om ’n voedende, verwelkomende swartheid te definieer. En dit skep dalk die ander blindekol – dat sy letterlik ’n hele klomp berge, die Maluti’s, moet klim en sewe, agt generasies die verlede in moet gaan om by ’n volhoubare weergawe van hierdie swartheid uit te kom, in die lewe van Moshoeshoe.

Rustum Kozain meen Krog wil nou ontras

Die boek loop langs ses paaie op ’n reis wat, myns insiens, nou eers vir Krog begin: ’n Politieke moord in Kroonstad in 1992, Moshoeshoe I se geskiedenis, briewe aan haar ma uit Berlyn, ’n Berlynse dagboek, gesprekke met ’n ongenoemde Australiese filosoof en gesprekke met mense in Lesotho.

Die leser reis saam op al dié paaie en deur verskillende tydperke.

Daar’s die 1800’s met Moshoeshoe.

So ook die vertelling van die Kroonstad-moord in 1992, ’n herbesoek daaraan met die Waarheidskommissie, asook ’n verdere besoek as Krog ou kamerade in die hede opsoek.

Die briewe aan haar ma is ongedateer, maar is, soos die boek, gedurende Krog se onlangse verblyf aan die Wissenschaftkollege in Berlyn geskryf. Die briewe spreek van ’n familiale wonder en trots van die dogter van ’n Suid-Afrikaanse Duits-onderwyser wat haar nou in Duitsland bevind in die kultuur wat haar ma gekoester het.

Die gesprekke met die filosoof vorm die sentrale deel van die boek, Krog se soektog: Wat is dit wat sy, as wit Suid-Afrikaner, misverstaan of kan bereik as deelwording van swart Suid-Afrika?

Soms spreek die ander soekpaaie sterk tot hierdie sentrale tema – Moshoeshoe se Afrika-humanisme, byvoorbeeld. Maar dan wonder ek weer of die multi-genre-benadering nie die boek kaap nie. In sommige dele – veral die briewe en dagboek – voel dit of die boek aan die uitrafel is. Die verhoudings tussen die afdelings word eenvoudig nie sterk byeengebring nie. Ek sou ’n meer ordenende skrywershand verkies waarmee die verhoudings tussen die verskillende diskoerse – persoonlik, familiaal, politiek, geskiedkundig – duideliker blyk.

’n Lang essay oor Moshoeshoe sou ook die skrywer se politiek-filosofiese soektog kon huisves sonder om in verskillende rigtings uitmekaar te loop.

Max du Preez is half-reg (Rapport, 28 November) omtrent “identiteitselfmoord’’, maar ek dink nie dit is wat Krog bedoel nie. Miskien is daar beter woorde om dit te beskryf: Dink aan Moshoeshoe se verhouding met Casalis. Die koning het hom aan dié sendeling ge-akkultureer en Moshoeshoe kon met sendeling en kolonialis onderhandel met die hulp van Bybelstories. Anders gestel, Moshoeshoe se akkulturasie, oftewel kulturele kennis en begrip, was iets wat hy by sy eie kon voeg. Dit kon hom net sterker maak, en dit kan ’n mens sekerlik nie as identiteitselfmoord sien nie.

Krog se vraag is dan hoe ver ’n mens na Moshoeshoe se kant kan akkultureer.

En miskien is die term waarna Krog soek die antropologiese “ontrassing’’ (deracination) wat met sulke akkulturasie gepaardgaan en nie altyd letterlik met “ras” te doen het nie. Die vraag is, in hoe ’n mate was Casalis ontras in sy verhouding met Moshoeshoe?

En dít is Krog se groot vraag.


- Rapport