Die Souties wat ’n seties laat swing

2009-11-28 23:00

Dramatis personae: die omslag van Heuningland

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Boeremusiek is lankal nie meer net ’n tafereel van donkielonge, braaivleis, brannewyn-en-klippies en boepense nie,” sê my skoonsuster nou die dag.

“En dat dit ’n klomp Engelssprekende mense moes vat om boeremusiek weer cool te maak – wel, dít vind ek baie verwonderlik en ironies,” voeg sy by.

En om haar punt te onderstreep, stop sy die Radio Kalahari Orkes se splinternuwe CD, Heuningland, in my hand met die woorde: “Gaan heen, luister en word wys.”

Die geskenk kom ook met ’n opdrag: “En probeer vir my ’n bietjie iets uitvind oor hierdie ouens.”

Die internet help nie baie nie: “Radio Kalahari Orkes (of RKO) word tans gereken as die vierde beste Afrikaner Magies-Realistiese Satiriese Boereorkes Herlewingsgroep in Suid-Afrika – ’n reuse- pluimpie, sou jy in ag neem dat RKO, sover bekend, ook die enigste verteenwoordiger van die betrokke genre is.”

Verder vind ek uit dat die orkes inderdaad bestaan uit ’n klomp Souties: Die akteur Ian Roberts en sy neef, Dan, en die bekende joernalis Rian Malan (alias Rooi Jan).

Hulle skryf die liedjies, Dan is die produksieleier, Ian sing en hulle betrek met elke projek ’n klomp uiteenlopende en kleurryke musikante en gaskunstenaars.

Hul eerste CD, Stoomradio (ook beskikbaar onder die titel Opgestook met ekstra liedjies en video’s), het goue status behaal nadat dit in 2005 uitgereik is.

Hul tweede CD, Die nagloper, was iets anders: daarop het RKO net musiek gespeel wat oorspronklik tussen die jare 1934 en 1941 deur die boeremusiekorkes David de Lange en Die Naglopers opgeneem is.

De Lange se musiek was destyds nie goed genoeg vir die SAUK nie – die destydse musiekhoof, dr. Anton Hartman, het dit beskryf as musiek met “geen eie kleur, geen eie karakter nie”. Hartman het gemeen ten spyte van boeremusiek se gewildheid is dit “minderwaardig vanweë sy karakterlose tweeslagtigheid en die lae uitvoeringspeil”.

Die CD was ook die klankbaan van Rian Malan se verhoogstuk Die nagloper waarin die verhaal van De Lange vertel word. Malan se navorsing dui daarop dat De Lange ’n baie jollie kêrel was – lief vir die bottel, lief vir zol, lief vir die girls en lief vir paartie – alles dinge waarop die ysterkoei-establishment neergesien het.

In Danie C. Pretorius se boek Musieksterre van gister en vandag skryf hy dat De Lange “die volk” gehelp het om van hul swartgalligheid as gevolg van die Depressie en die groot droogte van daardie jare ontslae te raak”.

Van sy bekendste liedjies was Suikerbossie, Boomstraat, Tamatiekonfyt, Die lekker dop, Die lekker kêrels, Skeeloog Daisy en Hoe voel jou voete nou. Hy is in 1947 op die ouderdom van 41 oorlede.

Dit sou nie vergesog wees om te sê iets van die gees van David de Lange en Die Naglopers leef voort in die Radio Kalahari Orkes nie.

Soos Rian Malan dit stel: “Ek smaak boeremusiek seker omdat dit so lekker swing, en omdat dit amper altyd so cheerful en opgewek is.”

Heuningland is inderdaad ’n baie plesierige affêre met uiteenlopende “gaskunstenaars” soos Valiant Swart, Chris Chameleon en Jack Parow (met die wonderlike dubbelsinnige “Blaas jou vuvuzela”), die punk-country-ster Jim Neversink en die akteur Frank Opperman (wat hoog aangeskryf word as sanger).

Die line-up word afgerond met die 81-jarige konsertinalegende Manie Bodenstein. Duidelik ’n wenresep vir ’n potjie met heelwat skop.

As produksieleier, mede-liedjieskrywer én musikant is Dan Roberts een van die RKO “main konyne”. Voor hy sy passie vir Afrikaanse musiek ontdek het, was hy jare lank ’n gerekende vervaardiger van TV- en rolprentadvertensies en musiekvideo’s wat al baie plaaslike en internasionale pryse gekry het.

Dan het op ’n plaas naby Fort Beaufort in die Oos-Kaap grootgeword – “net langs Mankazana, waar David de Lange gebore is”.

Ian, sy neef, het op dieselfde plaas grootgeword. “Ons pa’s was tweelingbroers en ons is ’n maand uit mekaar gebore.”

Sy belangstelling in Afrikaanse musiek kom van Voëlvry af.

“Ek is ’n goeie vriend van Lloyd Ross van Shifty Music-fame. In die 1980’s het hy in my garage in Parktown gebly en ’n studio in ’n ou woonwa gebou. Ek was op daardie stadium gatvol en uitge-PW en het na Londen geëmigreer. Ek het gedog ek is Engels, want ek het Engels gepraat! Ek het in kontak met Lloyd gebly en het begin hoor van hierdie snaakse Afrikaanse punks: Bernoldus Niemand, Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel.

“Die musiek was koel, maar die woorde was eintlik die ding. In daardie dae was hulle skoon heretical. Hulle het baie dinge gesê wat ons Souties gevoel het – en dit was in die taal van die oppressors nogal!”

Ná hy die produksie van Stoomradio gedoen het, het hy ook al hoe meer liedjies begin skryf.“My day job is rolprentregisseur, maar musiek bly my passie,” sê hy.

“Daar was nog nooit meer vryheid van uitdrukking en kreatiwiteit in Suid-Afrika as nou nie, en dit word alles baie sterk beïnvloed deur Afrikaans. Engelse liedjieskrywers in Suid-Afrika skryf asof hul koppe op ’n ander kontinent is – dis ’n wannabe-kultuur.

As jy ’n liedjie oor New York skryf en dit is in Engels, kan jy dit uit enigiemand se oogpunt skryf. As dieselfde liedjie in Afrikaans geskryf word, sal jy vanuit ’n spesifiek Suid-Afrikaanse oogpunt daarna kyk – en het jy dus onmiddellik ’n konteks,” sê Dan.

“Dit is hoekom Afrikaanse liedjieskrywers so ’n groot impak op die jeug het – hulle kan identifiseer met ’n ervaring wat hul eie is en uniek is.”

Wat maak Radio Kalahari Orkes vir hom spesiaal?

“Aan die een kant is RKO soos ’n magies-realistiese weergawe van Afrikaans (of om Afrikaans te wees), op dieselfde manier as die magies-realistiese styl in Suid-Amerika – dit is terselfdertyd werklik én onwerklik. Op Heuningland is daar baie spookstories. En dan is die humor – wat grootliks deur die Kaapse Maleier-moppies geïnspireer is – ook ’n belangrike bestanddeel van die RKO-potjie.

“Om in ’n inheemse taal te skryf (en een wat nie my moedertaal is nie) is soos om ’n parallelle werklikheid vol avontuur binne te stap – dit is nie net vol van die geskiedenis van die land nie, maar ook van die land se psige.

“Dit is so bekend soos Ouma-beskuit, maar ook vol verrassings, soos die oorsprong van Afrikaans as ’n kreoolse taal in die Kolonie. Vir my as Engelssprekende voel dit of ek deur Afrikaans gebind word aan Suid-Afrika en my wortels as Suid-Afrikaner.”

RKO se ondersteuners kom uit alle oorde – hul liedjie Kaptein kaptein (van Stoomradio) is onlangs selfs in die repertorium van die wenkoor in die nasionale skoolkoorkompetisie opgeneem.

Die RKO maak dit wat oud en vergete mag voorkom op ’n vreemde manier hip en hedendaags, sê hul aanhangers.

Dit alles behoort genoeg te wees om David de Lange se tone behoorlik te laat krul van lekkerkry in sy graf. Hy verdien dit.

Daar was nog nooit meer vryheid van uitdrukking en kreatiwiteit in Suid-Afrika as nou nie, en dit word alles baie sterk beïnvloed deur Afrikaans.

- Rapport