Eise teen polisie beloop R7,5 miljard
2009-11-15 00:09
Julian Rademeyer
Minstens 568 mense is volgens beskikbare statistieke deur polisiebeamptes doodgeskiet in die jaar tot April. Van hulle is 32 later amptelik as “onskuldige omstanders” geïdentifiseer.
Kenners meen egter die syfers kan veel hoër wees omdat die prosedures en meganismes van die polisie om onregmatige skietvoorvalle en ander vergrype te dokumenteer, asook die vermoë om dit self te ondersoek, “onbetroubaar” is.
Slagoffers van beweerde polisievergrype het verlede jaar siviele eise van meer as R3,2 miljard teen die polisie ingedien.
Die polisie-skietvoorvalle en gevolglike lewensverlies is die hoogste wat in die afgelope dekade in Suid-Afrika aangeteken is.
Nóg 44 mense is in 2008 en 2009 dood in ongelukke waarby polisievoertuie betrokke was.
Die provinsie waar die meeste mense in dieselfde tydperk deur die polisie doodgeskiet is of in aanhouding gesterf het (altesame 258) is KwaZulu-Natal, waar die nasionale polisiehoof, komm. Bheki Cele, tot Augustus die LUR vir gemeenskapsveiligheid was.
Dit verteenwoordig ’n verhoging van 47% op die vorige jaar.
Kyk mens na die land se geskiedenis was die hoogste jaarlikse sterftesyfer weens polisie-skietery in 1985, toe politieke onluste teen apartheid opgevlam het. In daardie jaar is 763 mense doodgeskiet.
In 1976, die jaar van die Soweto-opstande, het die polisie 653 mense doodgeskiet.
Amptelike syfers van die onafhanklike klagtedirektoraat (OKD), die afdeling van die polisie wat vergrype deur polisielede moet ondersoek, wys dat die polisie in Suid-Afrika sedert 1997 minstens 4?681 mense doodgeskiet het. Volgens die OKD se eie syfers was 56 van dié slagoffers onskuldige lede van die publiek.
Maar dr. David Bruce, senior navorser van die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening, sê in ’n 2007-verslag oor polisiëring: “Dit is moontlik dat ’n opvallende getal ‘verdagtes’ wat doodgemaak is, betrokke was in voorvalle waar polisiebeamptes mense se identiteit verwar het.”
In ’n onderhoud met Rapport die afgelope week het Bruce gesê: “Daar is nie behoorlike beheer (in die polisie) oor die gebruik van dodelike mag nie.
“Die interne stelsels wat die uitreik van ammunisie aan polisielede moet beheer, funksioneer op ’n baie wisselvallige manier. Dus kan die polisie nie die presiese getal skietvoorvalle waarby lede betrokke was, bereken nie.
“Die polisie moet na regte volle kennis dra van alle skietvoorvalle, asook waarvoor elke koeël gebruik word nadat dit aan ’n lid uitgereik is,” sê Bruce.
“Die OKD is ook nie in staat om alle voorvalle deeglik te ondersoek nie. Daar is enorme potensiaal vir die misbruik van mag.”
Van die meer as R3 miljard se siviele eise verlede jaar teen die polisie was R1,9 miljard as gevolg van “polisie-optredes” en nog R170 miljoen vir “skietvoorvalle”, volgens die polisie se jaarverslag.
Dit het die gebeurlikheidsbegroting vir hangende siviele eise teen die polisie opgestoot na R7,5 miljard teen einde Maart vanjaar.
Me. Dianne Kohler Barnard, DA-woordvoerder oor veiligheid en sekuriteit, sê dis ’n styging van 31% op die vorige boekjaar. Met dié bedrag sou die salarisse van 75 000 bykomende polisielede betaal kon word.
“’n Vyfde van die polisie se begroting is nou bestem vir siviele eise.”
Siviele sake teen die polisie sloer egter. Net R57,4 miljoen is tussen 2008 en 2009 uitbetaal aan eise en R38 miljoen tussen 2007 en 2008.
Die polisie se eie “rou statistiek” vir die tydperk April 2007 tot Maart 2008 wys dat 1 832 polisielede in interne tugverhore skuldig bevind is aan wangedrag en strafregtelike oortredings.
Van hulle het 504 geskrewe waarskuwings ontvang, aan nog 467 is boetes opgelê en 171 is onskuldig bevind.
In een geval is ’n polisielid intern skuldig bevind aan verkragting, maar hy het slegs ’n boete gekry.
Drie is sonder betaling “vir nie langer as drie maande nie” geskors weens poging tot roof.
Boetes is opgelê aan polisielede in ses gevalle van poging tot moord; vyf van korrupsie; vyf van dwarsboming van die gereg, sewe van bedrog; en een van roof.
- Rapport