Pete se pronk-pizza op pad na Australië
2012-05-26 23:49
Pete Goffe-Wood is gewoond daaraan om ander mense se kos te proe in sy hoedanigheid as beoordelaar van MasterChef South Africa.
Dinsdag is dit egter sy kos wat onder die vergrootglas kom wanneer hy aan die internasionale pizza-uitdaging in Sydney, Australië, deelneem.
Goffe-Wood het verlede jaar as Suid-Afrikaanse pizza-koning uit die stryd getree toe hy 84 ander pizza-makers geklop het met sy wen-pizza van volstruisbobotie op ’n basis met tamatie pronto-chakalaka en perske-blatjang.
Nie net het hy sy plek voor ’n pizza-oond in Australië verseker nie, maar hy het ook ’n G3 Ferrari-pizza-oond gewen.
“Ek het net deelgeneem as ’n guns vir ’n vriend om die getalle vol te maak. En toe wen ek!” lag hy.
Die internasionale pizza-uitdaging is in Australië begin om een van die wêreld se gunsteling-geregte – pizza – te bevorder.
Vandag is dit die grootste pizza-kompetisie ter wêreld.
Goffe-Wood is baie opgewonde om sy Kaap-Maleis geïnspireerde pizza in Australië te maak.
“Ek is gek na pizza en my gunsteling is enigiets met bestanddele soos ansjovis, olywe en tamatie.
“Die basis moet dun wees ... dit gaan immers oor alles wat bo-op die basis is.”
Oor sy volstruisbobotie-pizza sê hy dis ’n eie skepping omdat hy iets anders wou probeer. “Volstruisvleis is deesdae baie gewild én dis gesond. Ek wou graag daardie twee faktore kombineer.”
Hy sê dit gaan vreemd voel om nou beoordeel te word pleks van om aan die ander kant van die stoof te staan. “Maar ek kan nie wag om te begin bak nie!”
Volgens globalpizzachallenge.com sal resepte beoordeel word op grond van oorspronklikheid, balans, kreatiwiteit en hoe opwindend dit is.